On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Opskort van lewendehawe veilings bring talle uitdagings

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 08 Jul 2021

Opskort van lewendehawe veilings bring talle uitdagings | News Article
FOTO: SABRINA DEAN

Daar is vir die tweede agtereenvolgende week geen lewendehawe veilings nie.

Dit volg nadat dit op Sondag 27 Junie in die Staatskoerant gepubliseer is dat geen veilings tot 11 Julie met onmiddellike effek mag plaasvind nie. 'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, wat weekliks veilingspryse vir lewendehawe verskaf, sê daar is verskeie uitdagings wat ontstaan weens die onmiddellike opskort van veilings.

Sien onderstaande PODCAST

Derksen sê die regulasies het ‘n negatiewe impak op alle stoetvee-veilings wat reeds oor ‘n lang tydperk beplan is. Hy voeg by dat, “om ‘n lang ingewikkelde ketting soos die speenkalfbedryf sommer so oornag te stop is regtig besonders uitdagend.”

Dit is veral uitdagend vir boere wat graag ‘n paar vee wil verkoop vir kontantvloei.

Derksen sê egter dat die bek-en-klouseer uitbraak in KwaZulu-Natal ook nog ‘n uitdaging is en as dit nie beheer word nie, sal dit chaos in die hele veebedryf veroorsaak.

“Ons moet onthou [dat] naspeurbaarheid, wat nou lyk na groot moeite, is waarskynlik die beste oplossing om die bek-en-klouseer te beheer, en ander siektes, sowel as om diefstal te beperk.”

Hy moedig intussen boere aan om “vas te byt.”

OFM-nuus het vroeër berig dat die Landbouprodukte-agenteraad, oftewel APAC, sowel as die DA meer duidelikheid wou hê rakende die opskort van veilings.

Francois Knowles, registrateur van APAC, het aan OFM-nuus gesê dat hulle duidelikheid gevra het nadat nuwe, gewysigde regulasies, wat lui dat byeenkomste op veilings eers 11 Julie toegelaat word, in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die regulasies sê verder dat die datum op 11 Julie hersien sal word.

Daarmee saam het Noko Masipa van die DA gesê die party doen 'n beroep op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, om vlak 4 se regulasies wat veeveilings verbied te heroorweeg.

Masipa sê tydens verlede jaar se vlak 4-inperkings is veeveilings onder streng veiligheidsprotokolle toegelaat.

Die regulasies het toe bepaal dat veilings mag plaasvind indien slegs vee-eienaars, vee-agente, en vee-agentskappe wat by APAC geregistreer is, veilings kon hou of bywoon, op voorwaarde dat hulle die nodige dokumentasie onder die Veediefstalwet besit om vee te vervoer na en van die plek waar die veiling aangebied word.

Die regering het die land na ‘n aangepaste vlak 4 beweeg nadat Suid-Afrika 'n toename in die aantal nuwe daaglikse positiewe Covid-19-gevalle gesien het, met Gauteng wat die hardste getref is deur die huidige derde golf van infeksies.

Infeksiesysfers het intussen afgeneem.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.