On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wees bedag op vinnige ontwikkeling van winter- en lente-onkruid

───   ELZETTE BOUCHER 05:30 Thu, 12 Aug 2021

Wees bedag op vinnige ontwikkeling van winter- en lente-onkruid | News Article
FOTO: SAGRAINMAG.CO.ZA/Saailing

Graanprodusente word gemaan om bedag te wees vir die vinnige ontwikkeling van winter- sowel as lente-onkruid. Dit, ná goeie reënval in sekere gebiede wat daartoe gelei het dat die grondvog redelik gunstig is.

Dis volgens NWK se Bestuurder Landboubestuurdienste, Arno Janse van Vuuren, wat met OFM Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger, gepraat het oor onder meer die afgelope somergraanseisoen…

Sien onderstaande PODCAST

Wat is die huidige posisie met grondvog en onkruidbeheer?

“Die afgelope seisoen se reënval was in baie streke sodanig dat die grondvog redelik gunstig is. Dit skep die geleentheid dat grondbewerkings en chemiese regstellings nou reeds gedoen word en sommige produsente het reeds ver gevorder daarmee.

“Die gevaar bestaan egter ook dat die winter- en lente-onkruid vinnig buite beheer kan raak en die opgeboude grondvog kan uitput. Produsente moet bedag wees op die vinnige ontwikkeling van hierdie onkruid as dit nou warmer begin word. Lande word soms bykans oornag vuil. Begin betyds om die lande onkruidvry te hou.”


Wat toon die vooruitsigte vir reën vir die komende seisoen?

“Die weervoorspellers is dit op die oomblik eens dat dit lyk asof 'n swak La Nina-seisoen op die kaarte is vir die komende somerseisoen. Die waarskynlikheid van 'n droë El Nino-seisoen is tans baie laag. Dis natuurlik altyd vir ons produsente goeie nuus as dit lyk asof 'n normale tot bo-normale reënvalseisoen te wagte kan wees.”


Hoe lyk dinge as ons kyk na insetkoste?

“NWK se huidige beramings dui op 'n styging in die veranderlike produksiekoste van 16,90% in droëland mielies, 18.87% in droëland sonneblom en 21,85% in droëland sojabone. Die ander gewasse en ook die gewasse onder besproeiing toon soortgelyke hoë stygings.”


Is daar spesifieke insetmiddele wat na verwagting gaan styg in die komende somerseisoen?

“Daar word skerp stygings verwag in die pryse van kunsmisprodukte, asook sekere onkruid en plaagdoders. Brent ru-olie is tans meer as US$ 70/vat. Die Amerikaanse Energy Information Administration se siening is dat dit oor die medium termyn behoort te verlaag na net bokant $US60/vat. Ons sien egter opeenvolgende stygings in die plaaslike brandstofpryse.

“Die OPEC-lande se produksievlakke in die volgende paar maande gaan waarskynlik 'n groot rol speel in prysvasstelling. Verder is die elektrisiteitskoste 'n kopseer vir veral besproeiingsboere nadat NERSA in April 2021 weer 'n 15.06% styging goedgekeur het. 'n Verdere bekommernis is die buitengewone hoë jaarlikse aanpassing in die landbou se minimum loonvlakke.

“Die kombinasie van bogenoemde gereelde stygings plaas heelwat druk op produsente om steeds winsgewend te bly produseer.

“Graanpryse is altyd baie moeilik om 'n jaar vooruit te voorspel. Die plaaslike mielie-oes is verlede week verhoog na 17,1mt. Dit mag aanleiding gee tot hoë pyplynvoorraadvlakke en afwaartse druk op die SAFEX-pryse. Die geskiedenis het egter ook geleer dat ons vinnig plan maak met hoë voorraadvlakke. Die meeste graankommoditeite se pryse is tans op 'n vlak waar winsgewende produksie steeds moontlik is, mits goeie opbrengste behaal word.


Dan laastens, hoe sal jy sê, is produsente beter daaraan toe ná afloop van die 2021-oesseisoen?

“Die meeste graanprodusente is beslis finansieel beter af as twee jaar gelede. Dit is veral die afbetaling op termynlenings wat opvallend is. Baie van hierdie lenings het opgebou in die onlangse verlede met moeilike produksie-omstandighede en hierdie verlaging het 'n reuse-voordeel deurdat rente-verpligtinge drasties verlaag is in heelwat boerderye.

“Ons land se graanprodusente is tans in 'n goeie mededingende posisie en ons is uiters dankbaar daarvoor.”



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.