Agri Hour
Duisende hektaar ook in NW deur veldbrande verwoes─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 17 Aug 2021
Landbou-organisasies in Sentraal Suid-Afrika is bekommerd oor die verwoestende uitwerking wat wegholveldbrande op weivelde, lewendehawe en boere het.
Dit, nadat veldbrande die afgelope weke verwoesting in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap gesaai het en skade miljoene rande beloop.
Sien onderstaande PODCAST
Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri Noordwes, sê daar is verskeie veldbrande in die Noordwes aangemeld, met die grootste veldbrand wat in die Reivilo-omgewing naby Kuruman aangeteken is. Hy deel dat die veldbrand in die Kuruman-omgewing in die Noord-Kaap begin het en na die Noordwes versprei het. In totaal, tussen hierdie twee provinsies is meer as 100 000 hektaar veld verwoes.
OFM-nuus het vroeër berig dat plase in die omgewing van Kuruman, Daniëlskuil en die Lohathla militêre basis onlangs deur veldbrande geraak is. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê die omvang van die skade is verreikend.
LEES: Damage after historical FS veld #fires amounts to millions
Die DA het Premier Zamani Saul en die Minister van Verdediging, Thandi Modise, gevra om ondersoek in te stel na die oorsprong van die brande, veral in die John Taolo Gaetsewe-streek, waar vuur volgens die party by die Lohathla militêre basis begin het en minstens 70 000 hektaar se bewerkbare grond van Kathu tot by Daniëlskuil verwoes het.
Daarmee saam het veldbrande wat gedurende die laaste 10 dae in die Potchefstroom-omgewing ontstaan het, meer as 20 000 hektaar veld verwoes.
De Chavonnes Vrugt voeg verder by dat hulle nog nie weet wat die presiese omvang van die skade is nie.
Diegene wat skenkings wil doen aan boere in nood, kan Agri Noordwes se webtuiste besoek of Naudé Pienaar, die organisasie se adjunk bestuurder, by 082 776 8283 kontak.
Besoek ook Vrystaat Landbou en Agri Noord-Kaap se webtuistes indien u skenkings aan boere in hierdie provinsies wil maak.
OFM-nuus
