On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Agri Hour

Duisende hektaar weiveld in NK, VS en NW verwoes

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 23 Aug 2021

Duisende hektaar weiveld in NK, VS en NW verwoes | News Article
FOTO: AGRIORBIT.COM

Sowat 170 000 hektaar veld is onlangs weens wegholveldbrande in die Noord-Kaap verwoes.

Dit, terwyl boere in die Vrystaat en Noordwes ook groot skade weens verwoestende veldbrande gely het. Volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het die grootste veldbrande in die Kuruman- en Daniëlskuil-omgewings plaasgevind. 

Sien onderstaande PODCAST

Die grootste veldbrand wat die Noord-Kaap onlangs ervaar het, is in die omgewings van Kuruman, Daniëlskuil en die Lohatla Militêre basis aangemeld, waar sowat 105 000 hektaar veld verwoes is. Later het nog veldbrande in die Douglas, Schmidtsdrift, Barkley Wes en Warrenton-omgewings veld verwoes, wat die totale hektaar veld wat weens veldbrande verwoes is, op sowat 170 000 hektaar te staan bring.

Jansen sê hulle vermoed dat hierdie veldbrande nie natuurlik ontstaan het nie. Maar, hy voeg by dat daar nog nie enige verslag is om die vermoede te bevestig nie.

LEES: Agri podcast: Damages due to veld fires in FS amounts to more than R370 million

Intussen het OFM-nuus in Julie vanjaar berig dat die geraamde koste as gevolg van die grootste veldbrand in die Vrystaat se geskiedenis, wat op 12 tot 13 Julie plaasgevind het, ongeveer R375 miljoen beloop.

Vrystaat Landbou se dr. Jack Armour het aan OFM-nuus gesê dat die verwoesting wat die veldbrande veroorsaak, byna onmeetbaar is.

Hy voeg by dat ongeveer R30 miljoen se lewende hawe verlore gegaan het, asook 'n verdere R345 miljoen weiveld.

Hy sê in 'n vinnige opname wat in Julie deur 63 boere gedoen is, word geraam dat strukturele skade R3 miljoen beloop. Armour sê egter dat die getal ver onder die werklike skade was.

Daarmee saam het Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri Noordwes, gedeel dat daar verskeie veldbrande in die Noordwes aangemeld is, met die grootste veldbrand wat in die Reivilo-omgewing naby Kuruman aangeteken is. Hy deel dat die veldbrand in die Kuruman-omgewing in die Noord-Kaap begin het en na die Noordwes versprei het. In totaal, tussen hierdie twee provinsies is meer as 100 000 hektaar veld verwoes.

Diegene wat skenkings wil doen aan boere in nood, kan Agri Noordwes se webtuiste besoek of Naudé Pienaar, die organisasie se adjunk bestuurder, by 082 776 8283 kontak.

Besoek ook Vrystaat Landbou en Agri Noord-Kaap se webtuistes indien u skenkings aan boere in hierdie provinsies wil maak.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.