Agri Hour
Agri Voice, die mondstuk van landbou─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 26 Aug 2021
Agri Gauteng het onlangs ‘n nie-winsgewende maatskappy op die been gebring wat sal dien as die mondstuk van landbou in Suid-Afrika.
Volgens dr. Willem Pretorius, president van Agri Gauteng, is dié maatskappy, genaamd Agri Voice, se doel om nie net die nuutste nuus in landbou te deel nie, maar om ook opleiding en ander insiggewende videos met die landbougemeenskap te deel.
Sien onderstaande PODCAST
Pretorius verduidelik dat die gedagte agter Agri Voice is om ‘n veelsydige stem aan landbou te gee.
“Die uitvoering van hierdie droom het afgeskop met Agri Gauteng wat die eerste tree gegee het deur Agri TV, ’n aanlyn stroomdiens, tot Agri Voice by te dra.
“Die tydsberekening van die verkryging van Agri Connect kon nie beter gewees het nie en gee momentum saam met die Melkprodusente-organisasie (MPO), wat ook as lid aangesluit het en ’n verdere stuiwer in die armbeurs gooi,” sê die organisasie in ‘n verklaring.
Pretorius voeg verder by dat Agri Voice ook ander dienste soos PR en die aanbieding van funksies bied.
“Agri Voice sal nie net die Suid-Afrikaanse landbou deur middel van die media dien nie, maar ook netwerke bou en skakeling fasiliteer op ’n wyer basis in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG),” sê Pretorius.
Diegene aan die stuur van hierdie maatskappy sluit in Pretorius as voorsitter; Thina Nodada, ’n in- en uitvoerspesialis en eienaar van Waymaker Solutions; GP van Rheede van Oudtshoorn, kommunikasiespesialis verbonde aan die Noordwes Universiteit en ook ’n verteenwoordiger van die MPO; en Albert Loubser as besturende direkteur.
Gaan na agrigauteng.co.za vir meer inligting.
Besigtig Agri TV hier.
OFM-nuus
