On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Talle vee, weivelde en infrastuktuur beskadig in VS weens veldbrande

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 06 Sep 2021

Talle vee, weivelde en infrastuktuur beskadig in VS weens veldbrande  | News Article
Foto: Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging (Facebook)

Die Vrystaat is die afgelope naweek weer deur wegholveldbrande geteister.

Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging, sê die grootste brand is in die Ventersburg-omgewing aangemeld. 

Hy deel ook dat onder meer diere, voertuie en infrastruktuur weens die veldbrande verwoes is. 

Sien onderstaande PODCAST

Die Ventersburg-brand het van Vrydag af gewoed en is eers teen Sondagoggend 03:00 geblus. Breytenbach sê hierdie brand het veral ‘n baie groot impak gehad en daar is baie skade deur boere aangemeld.

OFM-nuus het gedurende die naweek berig dat die Aldam- sowel as die Willem Pretorius-natuurreservate ook deur die veldbrande getref is. Breytenbach sê dié twee reservate het groot skade gelei.

LEES: Damage after historical FS veld #fires amounts to millions

Verder is sowat 8 000 hektaar veld in Dewetsdorp verwoes waar een boer 350 skape verloor het.

‘n Veldbrand Vrydag in Glen het ook redelike groot skade aangerig toe voertuie en ‘n skuur aan die brand geslaan het. Dit, terwyl daar Saterdag in die Bainsvlei-omgewing ook ‘n veldbrand aangemeld is. Breytenbach sê hierdie brand was nie baie groot nie, maar binne ‘n tydperk van twee ure is ‘n woonhuis en twee voertuie gebrand en twee mense moes mediese hulp ontvang.


Dié brande vergelyk nie met die Petrusburg-brande nie

Breytenbach sê die afgelope naweek se veldbrande vergelyk nie met die Petrusburg-brande nie. Hy sê daar het op 12 Julie twee veldbrande in die Xhariep-distrik ontstaan, waarvan die een in Petrusburg gewoed het. “Dit was een van die grootste enkele brande wat ons gehad het wat een brandinsident was,” sê Breytenbach.

Net meer as 104 000 hektaar weiveld is in die Petrusburg-omgewing binne 27-uur verwoes, terwyl byna 10 000 hektaar veld in die Fauresmith-omgewing verwoes is.

LEES: MEC to visit FS farms following #fires

Breytenbach sê dit is op hierdie oomblik nog nie duidelik hoeveel veeverliese daar was of wat die omvang van infrastruktuur skade was in die Ventersburg-omgewing nie.

Verder kan hy nog nie sê “presies wat die brand-oppervlakte gaan wees nie. Maar ons kan in hierdie stadium ‘n skatting maak dat daar tussen 15 000 en 30 000 hektaar is wat gebrand het.”

Breytenbach sê veldbrande is normaal vir hierdie tyd van die jaar, maar wat hierdie veldbrande egter verskillend maak, is dat daar veldbrande was wat 'n baie groot impak gehad het. Hy verduidelik dat dit beteken dat die verwoesting wat gesaai is meer is as wat normal geklassifiseer kan word vir hierdie tyd van die jaar.

Die vereniging het verlede week waarskuwings uitgestuur om die publiek in kennis te stel dat sou daar veldbrande ontstaan sal dit weens sterk winde vinnig versprei.


Vandeesweek se brandvooruitsigte

Van Maandag af sal daar ‘n afplatting kom en vir die volgende drie dae se voorspellings toon dat daar laer kanse vir brande gaan wees.

Volgens Breytenbach toon addisionele voorspellings egter dat daar weer kouefronte op pad is – wat gewoonlik met sterk winde gepaard gaan.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.