On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Verwoestende veldbrande hou groot finansiële implikasies vir boere in

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 08 Sep 2021

Verwoestende veldbrande hou groot finansiële implikasies vir boere in  | News Article
FOTO: VERSKAF

Duisende hektaar veld is in Sentraal Suid-Afrika weens wegholveldbrande verwoes.

In die Noordwes alleen is meer as 500 000 hektaar veld vanjaar deur veldbrande verwoes. Dit, terwyl byna 300 000 hektaar veld in die Noord-Kaap die afgelope maande verwoes is. Dit is nog nie bekend hoeveel hektaar veld in totaal in die Vrystaat afgebrand het nie maar boere het groot skade gely. 

Sien onderstaande PODCAST

Campher het in ‘n onderhoud met OFM-nuus verduidelik dat die veldbrande ook werkloosheid tot gevolg het wat die landbousektor en landbou-ekonomie in hierdie gebiede op hulle knieë sal dwing.

Sy sê die organisasie is tans besig om deur sy strukture te bepaal wat die omvang van die skade in al drie die genoemde provinsies is.

Sy deel dat die kommer bestaan dat die uitdagings op grondvlak baie groter is as die inligting wat tans tot die organisasie se beskikking is.

“Ten spyte daarvan dat boere nog steeds voorsorgmaatreëls getref het, wat elke jaar te midde van die brandseisoen verwag word, was die brande vererger deur sterk winde en droë weer,” sê Campher.

Verder sê sy dat sou die provinsies as rampgebiede verklaar word, is die kanse skraal dat die staat hierdie gebiede finansieel by kan staan weens die Covid-19 pandemie en die feit dat ons die amptelike verklaring van ‘n nasionale droogteramp in die gesig staar.

“Dit is natuurlik die hulp van die private sektor wat verligting vir hierdie boere kan bied. Dit is ook belangrik dat die korrekte inligting deurgevoer word na provinsiale rampbestuurforums en natuurlik na die nasionale ramphulpsentrum sodat die staat die omvang van die skade kan bepaal sodat rampverklarings nietemin nog steeds uitgereik word. Al is daar dalk nie befondsing vir hierdie ramp nie, nietemin sal dit steeds belangrik wees sodat die regering boek kan hou van die omvang van die skade. Sodat, indien daar geld bewillig sou word, daar ‘n deeglike analise is van die omvang van die skade.”

OFM-nuus het vroeër berig dat die brande wat in verskeie dele van die Vrystaat gedurende die naweek gewoed het, teen Sondagoggend 03:00 geblus is.

Luidens die SAUK is ‘n brandbestryder en nog ‘n persoon beseer in veldbrande naby Ventersburg wat na die Aldam-natuurreservaat uitgebrei het. Ses vakansiehuise is beskadig en die oord moes ontruim word. Die Vrystaatse Brandbeskermingsvereniging sê meer as 13 000 hektaar landbougrond is vernietig. Sommige voertuie en geboue by Glen is ook beskadig. Brande het ook voorgekom in die omgewing van Winburg, Ficksburg, Thaba Nchu, Dewetsdorp en Rouxville.

Teen Dinsdagmiddag het veldbrande nog in die Noord-Kaap gewoed wat deur sterk winde vererger is.


Waarskuwing vir die Noord-Kaap

Die Noord-Kaapse veldbrand-reaksiespan het 'n waarskuwing uitgereik oor gevaarlike veldbrandtoestande wat van Donderdag 9 September tot Maandag 13 September sal heers. Inwoners is aangemoedig om waaksaam te bly en om oop vure in die veld te vermy. Die reaksiespan voeg by dat brandbestrydingstoerusting en personeel gereed moet wees om te reageer, sou daar ‘n brand ontstaan.

Enige veldbrand moet by die brandbeskermingsvereniging by die munisipale brandweerdienste aangemeld word.




OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.