On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Beoordelaars beïndruk met vanjaar se Sauvignon Blanc-wyninskrywings

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 13 Sep 2021

Beoordelaars beïndruk met vanjaar se Sauvignon Blanc-wyninskrywings | News Article
Foto: sauvignonblanc.com

Wyninskrywings vir vanjaar se Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie word as interessant, wêreldklas, en vol uitdrukking deur die beoordelaars beskryf.

Die hoofsameroeper van die beoordelaarspaneel, dr. Winifred Bowman, sê wyne wat ingeskryf word vir hierdie kompetisie word elke jaar al hoe beter. 

Sien onderstaande PODCAST

Die paneel van beoordelaars het vanjaar ‘n totaal van 157 wyne van 96 produsente geproe en volgens Bowman was daar net twee of drie foutwyne gewees. Sy verduidelik dat dit beteken dat wynmakers baie meer aandag begin gee aan hoe hulle die wyne maak.

Hierdie wyne is van Dinsdag 31 Augustus tot Donderdag 2 September by Uitkyk Landgoed geproe.

Bowman, ‘n Kaapse Wynmeester, vertel dat vanjaar se kompetisie ‘n besonderse een was omdat daar ‘n groot verskeidenheid style en oesjare was. Wyne het ook ‘n goeie uitdrukking van Sauvignon Blanc gehad - wat belangrik is.

Sauvignon Blanc is die grootste verkoper van wyn in Suid-Afrika met Suid-Afrikaners wat altesaam 4.4 miljoen kissies van ses bottels per jaar drink. Daarom, sê Bowman, is hierdie ‘n belangrike wynkategorie in Suid-Afrika.

Een van die grootste kategorieë tydens vanjaar se beoordeling was ongehoute wyne van die 2021-oesjaar. “Wat die gehoute klasse betref was die beoordelaars dit eens dat daar voortreflike bestuur van hout was.”

Die Top 20-finaliste word later in September aangekondig terwyl die Top 10-finaliste tydens 'n toekenningsgeleentheid op Woensdag 13 Oktober aangekondig sal word. Daarmee saam sal 'n tegniese seminaar, wat inligting rondom die Top 10 deurgee, op Woensdag 17 November in Franschhoek gehou word.

Ander beoordelaars sluit in Charles Hopkins, keldermeester van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Rüdger van Wyk, wynmaker van Stark-Condé Wyne, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, asook twee protégés, Kelsey Shungking van Mullineux en Leeu en Victoria Davis van Boekenhoutskloof.

Sauvignon Blanc SA bevorder Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc se gehalte plaaslik en internasionaal. Enigeen kan 'n lid van Sauvignon Blanc SA word om die voordele van gedeelde kundigheid te geniet. 

Vir meer inligting, of om in te teken op die Sauvignon Blanc SA-nuusbrief, besoek www.sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440. Word deel van gesprekke op sosiale media oor die #SauvignonBlancSATop10 en volg Sauvignon Blanc SA op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.