On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Samewerking is nodig om bek-en-klouseer hok te slaan

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 13 Sep 2021

Samewerking is nodig om bek-en-klouseer hok te slaan  | News Article
Foto: pri.org

Die Nasionale Departement van Landbou het onlangs aangekondig dat die getal bek-en-klouseer rampbestuursgebiede in KwaZulu-Natal verminder is.

Hierdie besluit volg op die afsluiting van die tweede ronde serologiese toesig wat in die betrokke gebiede in die provinsie gedoen is. 

Sien onderstaande PODCAST

In die lig hiervan, is Roelie van Reenen, hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep, van mening dat die departement se aankondiging beteken dat daar tans ‘n veiliger sisteem in KwaZulu-Natal is en dat daardie lewendehawe produsente nou weer hulle diere makliker kan verhandel en ook deel kan neem in die ekonomie van diere.

Indien bek-en-klouseer na ander provinsies sou versprei sal dit katastrofies vir Suid-Afrika wees, sê Van Reenen. Dit sal nie net die land se vermoë om vleis uit te voer na ander lande raak nie, maar boere sal ook groot verliese ly. Botswana het, toe bek-en-klouseer in Mei in KZN bevestig is, alle rooivleis vanaf Suid-Afrika stop gesit, wat die plaaslike ekonomie negatief affekteer.

Van Reenen sê samewerking is noodsaaklik regoor die hele bedryf. Hy noem dat rolspelers soos die departement, die Landbouprodukte-agenteraad (APAC) en die deelnemers in die industrie, moet saamwerk om dieresiektes soos bek-en-klouseer die hoof te bied.

Intussen het belangrike reëls vir lewendehawe-agente op 1 Julie vanjaar in werking getree en volgens Francois Knowles, registrateur van Apac, is hierdie maatreëls se doel om onder meer te verseker dat albei die wild- en lewendehawebedrywe aan die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) se kode voldoen om dieresiektes te verhoed.

Die Minister van Landbou, Thoko Didiza, het ook onlangs ‘n ministeriële taakspan saamgestel oor biosekuriteit met spesiale klem op bek-en-klouseer, Afrika-varkpes en die hoogs aansteeklike voëlgriep. Didiza sê die doel van die taakspan is om meganismes te vind en aanbevelings te doen oor ‘n reeks sleutelbesluite.

OFM-nuus het vroeër berig die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê dat die beperking op die beweging van diere uit, binne, deur en na die gebiede vir siektebestuur voldoende was om te voorkom dat die siekte verder versprei.

Hy sê in totaal is bek-en-klouseer op 29 gebiede in KwaZulu-Natal opgespoor en bevestig.

Die volgende plaaslike munisipaliteite is nou vrygestel van bewegingsbeperkings: Umhlabuyalingana, Jozini, eDumbe, Abaqulusi, Ulundi, Nkandla, Mthlonjamemi en uMlalazi.

Die vervoer van gekloofde diere en hul produkte na, uit, deur, of binne die gebiede vir die bestuur van siektes word steeds slegs toegelaat met toestemming van 'n permit wat deur die Veeartsenykundige Dienste van die gebied uitgereik is.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.