Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 08 Oct 2021

Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou vandeesweek se hoofstories op OFM uit...
Sien onderstaande PODCAST
Die Nasionale Oesskattingskomitee sal na verwagting einde Oktober produsente se aanplantingsvoornemens bekend maak, en volgens Luan van der Walt, ‘n ekonoom by Graan SA, lyk die verwagtinge vir die 2021/22-seisoen goed. Hy sê die seisoen lyk of hy goed begin het. Daar is al in sekere gebiede in die Vrystaat, veral die Wes-Vrystaat, mielies aangeplant. Van der Walt deel dat ná gesprekke met produsente blyk dit of daar heelwat sojabone gedurende hierdie seisoen aangeplant gaan word. Hy sê daar bestaan egter tans 'n risiko vir plaaslike produsente, soos wat produsente in Amerika reeds begin stroop het. Dit kan dalk die Amerikaanse pryse onder druk plaas en moontlik ‘n oorspoel-effek hê na die Suid-Afrikaanse pryse in die volgende vier tot agt maande.
'n Bogemiddelde kans bestaan dat oorstromings en gepaardgaande skade oor dele van die somerreënstreek kan voorkom, veral in gebiede stroomaf van groot opgaardamme. Landbou.com berig Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, sê voorspellings vir dié somer is baie soortgelyk aan die voorspellings vir die 2020-’21-seisoen, met ’n La Niña-verskynsel wat ontwikkel. Dit beteken dat daar ’n goeie kans op gemiddelde tot bogemiddelde reënval vanaf Oktober tot Desember 2021 is oor die oostelike dele van Suid-Afrika. Dit sluit in die grootste deel van die Oos-Kaap, veral die noordelike dele; KwaZulu-Natal; Mpumalanga; die Oos- en Sentraal-Vrystaat; Gauteng; die suidelike dele van Limpopo en die oostelike dele van Noordwes.
EN
Met feestyd wat al hoe nader kom, word boere gewaarsku om op hulle hoede te wees vir die moontlike toename in veediefstal. Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal Voorkomingsforum (VVF) in die Vrystaat, sê veral dorpe langs die Suid-Afrika/Lesotho-grens word die ergste deur hierdie misdaad geraak. Sy sê een van die moontlike redes vir die toename in veediefstal is omdat daar baie mense is wat werkloos is en dit vir hulle ‘n bron van inkomste is. Sy voeg ook by dat veediefstal reeds hierdie tyd van die jaar begin toeneem en tot ná die nuwejaar kan voortduur. Kruger raai boere aan om diere na aan die huis te skuif en om ook kamera’s en selfs halsbande met 'n elektroniese apparaat om vee se nekke te sit, wat deur 'n selfoon alarm maak sodra daar enige beweging is.
OFM-nuus