Agri Hour
#Covid19 het voerskenkings, donasies negatief beïnvloed─── LUCKY NKUYANE 05:00 Wed, 20 Oct 2021
Voerskenkings en donasies vir rampdroogtegebiede het in 2017 momentum begin kry en eksponensieel toegeneem tot en met die uitbreek van die Covid-19 pandemie, wat die ekonomie tot stilstand gedwing het.
Volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het die pandemie nie net ‘n enorme impak op die land se ekonomie gehad nie, maar ook op Suid-Afrikaners se geldsakke en spanderingsvermoë. Dit het daartoe gelei dat mense minder voerskenkings en donasies aan boere in nood kon maak, wat ook die organisasie se vermoë om hierdie boere te help gedemper het.
“Maar om terug te kyk oor die tydperk is ons verskriklik dankbaar dat ons in ‘n posisie kon wees, danksy die publiek se openhartigheid, om altyd ‘n [manier] te vind om ‘n geldjie af te knyp, om diegene wat in ‘n ramp is te help om te kan oorleef en om deur hierdie ramp te kom…,” sê Jansen.
Hy voeg egter by dat wanneer dit kom by skenkings en donasies, is effektiwiteit en volhoubaarheid belangrik.
Hierby bedoel Jansen dat dit baie geld kos om veevoer na die boer te vervoer, “en dis ‘n besteding wat jou tot hulp kon gewees het. So, jy moet gaan besluit of dit die regte manier is om [die geld] te spandeer op daardie wyse.”
Hy sê die organisasie vind dat van die boere wat hierdie droogtehulp, ontvang eerder vra om die geld self by hulle plaaslike koorporasie te bestee, waar hulle dan goeie kwaliteit voer aankoop en gebruik in ‘n mengsel wat dan oor ‘n langer termyn gebruik kan word, as om voer oor lang afstande aan te ry.
Sien onderstaande PODCAST vir meer hieroor:
OFM-nuus
