Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 05 Nov 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...
Sien onderstaande PODCAST
Die hoenderprodusent Country Bird Holdings (CBH) sê hy het tans geen planne om sy Supreme-slagplaas in Mahikeng, Noordwes, te sluit nie. Luidens landbou.com het Brendon de Boer, uitvoerende hoof van CBH gesê, eNCA het hom nié om kommentaar genader voordat hulle op 1 November ’n berig met dié bewering gepubliseer het nie. Dit volg nadat eNCA in ’n twiet gesê het CBH het besluit om die aanleg uit Noordwes te skuif weens swak dienslewering en dat sowat 2 000 poste in gedrang kan wees. OFM-nuus het vroeër berig dat Clover sy kaasfabriek in Lichtenburg na Durban skuif nadat die maatskappy swak munisipale dienslewering as rede genoem het. eNCA het sy eerste berig later op dieselfde dag opgevolg en berig dat CBH ontken het dat hy planne het om die slagplaas te verskuif, maar dat Obed Bapela, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, aan eNCA gesê het die maatskappy dreig om die slagplaas weens swak dienslewering te verskuif.
Artikel 6 van die Wet op Veediefstal, Wet Nr 57 van 1959, het te doen met die oordrag van eienaarskap van vee en artikel 8, ook ingevolge die Wet op Veediefstal, is die vee-verwyderingsertifikaat. Volgens Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal Voorkomingsforum in die Vrystaat, is hierdie twee dokumente baie belangrik en lewendehawe produsente benodig dit as hulle vee vervoer en vee aankoop. Indien die dokumente nie korrek ingevul word nie, is dit ongeldig. Kruger sê verder die artikel 8 dokument word nie deur die verkoper ingevul nie.
'n Nuwe sakereddingsplan vir die Noord-kaap se Nieuwoudtville Rooibos kan binnekort privaat beleggers trek om te verseker dat die rooibostee-verwerking en -verpakkingsaanleg van ondergang gered word. Die sakereddings-praktisyn, Herman Bester, sê vier private beleggers steek reeds hulle hande op as potensiale beleggers, saam met die provinsiale regering in die Noordkaap - wie die enigste aandeelhouer is. Die maatskappy is in sakeredding geplaas na plaaslike rooibosprodusente nie vir lewering van tee aan die aanleg betaal kon word nie. Die provinsiale regering het intussen skouer aan die wiel gesit om die bedryf weer volhoubaar te maak. Die Waarnemende hoofbestuurder, Malcolm Baard, sê die toename in besigheid bring verligting vir die dorp, met 40 permanente werkers en nog 60 wat tydelik in diens.
EN
Sommige van die produsente in die somersaaigebiede in Noordwes het reeds begin aanplant en kommoditeitpryse vir oliesade lyk tans goed. Só sê Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri NW, wat byvoeg dat van die boere vroeër as normaal begin plant het om te kyk of hulle van hierdie goeie pryse kan realiseer. Ten spyte van optimisme vir die nuwe produksieseisoen, sê De Chavonnes Vrugt, boere is bekommerd oor hoë inset kostes. Petrol- en dieselpryse het vandeesweek weer gestyg, en kunsmispryse het ook die afgelope tyd die hoogte ingeskiet. Hy sê verskeie faktore dra by tot dié prysstygings.
OFM-nuus
