Agri Hour
Nuwe navorsing lig verskille tussen grasgevoerde en graangevoerde beesvleis uit─── 05:00 Wed, 10 Nov 2021
‘n Nuwe navorsingstudie toon aan dat die manier waarop Nieu-Seelandse gras-gevoerde beesvleis geproduseer word, ‘n uitwerking op gesondheid en spysvertering het.
Dit is volgens ‘n artikel wat deur die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) gepubliseer is.
Sien onderstaande PODCAST
Wetenskaplikes sê die navorsing toon dat terwyl die samestelling van diereproteïen grootliks deur die dier se genetika bepaal word, die vet-inhoud, veral die sogenaamde “goeie vette”, meestal bepaal word deur dit wat die dier geëet het.
Die navorsing het ‘n vergelyking getref tussen beesvleis wat op weidingsvelde geproduseer is met beesvleis van graan-gevoerde beeste asook ‘n plant-gebaseerde alternatief ten einde te bepaal hoe die menslike spysverteringstelsel op die verskillende kossoorte reageer. Daar is spesifiek met behulp van laboratorium-gebaseerde verteringsnabootsers gekyk na hoe die voedsame proteïene en vette vrygestel word vir gebruik deur die liggaam.
Die navorsers het bevind die proteïene van beide die gras-gevoerde en graan-gevoerde beesvleissnitte word op dieselfde manier verteer, maar beduidende verskille is in die vertering van vette gesien.
Die vertering van vleis wat van diere afkomstig is wat op die veld gewei het, het hoër vlakke van goeie vette vrygestel, relatief tot die vette wat oor die algemeen as “slegte vette” beskou word. Dit dui daarop dat vleis wat van gras-gevoerde beeste afkomstig is, gesondheidsvoordele inhou.
Die plant-gebaseerde alternatief wat in die studie ontleed is, het geen goeie vette bevat nie.
Die navorsers sê daar word aanvaar dat slegte vette die risiko van kardiovaskulêre siektes verhoog, terwyl die goeie omega 3-vette goeie gesondheidsvoordele inhou. Die dieet-inname van lang-ketting omega 3-vette word wêreldwyd in dieetriglyne aanbeveel omdat dit laer cholesterol bevorder.
OFM-nuus
