Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 12 Nov 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...
Sien onderstaande PODCAST
Daar is gedurende die afgelope naweek nóg bruinsprinkane in die Noord-Kaap aangemeld. Dié keer in die De Aar-omgewing. Die provinsiale Departement van Landbou het vroeër aangekondig dat bruinsprinkane in onder meer die Springbok-omgewing opgemerk is. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê dit is verskriklik belangrik dat hierdie plaag so gou as moontlik bestry en bestuur moet word terwyl hulle in die voetgangerstadium is. OFM-nuus het verlede week berig dat sprinkaanswerms in die ZF Mgcawu- en die Pixley ka Keme-streke aangemeld is. Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement, het in ‘n verklaring gesê dat swerms nou uitbreek as gevolg van die verandering in weerpatrone wat gelei het tot verhoogde reënval in droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap. Die publiek word versoek om dadelik die departement in kennis te stel sodra hulle swerms sien.
Die veiligheid van landbougemeenskappe langs die Suid-Afrika/Lesotho-grens bly steeds ‘n groot bron van kommer. Dit, nadat drie plaaswerkers onlangs op die plaas Balmacara in die Vanstadensrus-area aangeval en geskiet is. Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, is die plaas Balmacara al vir jare gekenmerk as 'n brandpunt-area vir oorgrens-misdaadaktiwiteite. Die skietvoorval wat op 28 Oktober op die plaas Balmacara plaasgevind het, het tot die dood van een van die drie plaaswerkers gelei, en volgens Le Roux, was die werkers deur vyf aanvallers, afkomstig vanaf Lesotho, geskiet. Hy sê die aanvallers het klaarblyklik weer oor die grens terug beweeg na Lesotho toe.
EN
‘n Woordvoerder oor Natuurlike Hulpbronne by Agri SA, Janse Rabie, het die uitspraak oor waterregte verwelkom en sê dit bevestig Agri SA se vertolking van die Waterwet. Rabie sê dit is veral vir besproeiingsboere van belang. Die Appèlhof in Bloemfontein het bevind dat waterregte-houers die reg het om sodanige regte oor te dra ingevolge die bepalings van die Nasionale Waterwet en dat dit nie verbode of onwettig is om handel te dryf in sodanige regte nie. Die saak is deur ‘n volbank regters aangehoor en Regter Clive Plasket het dié meerderheidsuitspraak gelewer. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria drie aansoeke van die hand gewys het vir ‘n verklarende bevel oor die korrektheid van ‘n omsendbrief van die departement van Water en Sanitasie in 2018 dat watergebruiksregte nie oorgedra mag word nie. Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Watergebruikersverenigings, SAAFWUA, was een van die aansoekers, terwyl Agri SA die ander twee in die aansoek bygestaan het.
OFM-nuus
