Arts
Reusemusiekskatprojek bereik luisterryke hoogtepunt─── 08:27 Fri, 09 May 2025

Die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 2025 het die perfekte geleentheid gebied om Sentraal Suid-Afrika se ore te bederf met die kreatiewe vrug van maande se harde werk.
Die Bloemfonteinse musikus Anton Esterhuyse en videograaf Zita Olinger het by OFM se Mid-Morning Magic-program aangesluit om meer oor hul projek te vertel wat op die dag amptelik ten einde geloop het, en om ook Esterhuyse die geleentheid te bied om ’n keurspel van 100 Afrikaanse liedjies, gespeel in tien minute, regstreeks op die lug te deel.
Dié span het einde 2024 die reuse-uitdaging aangepak om 100 ikoniese Afrikaanse liedjies op klavier vas te lê in ’n reeks treffende musiekvideo’s waarin Esterhuyse verskeie kunstenaars en sanggroepe begelei het.
Vir Esterhuyse het die proses om die finale 100 liedjies te kies, baie beplanning en navorsing vereis. “Ek het maar gaan sit met al my Afrikaanse bundels – my FAK-bundels, ou CD’s, Skouspel-DVD’s – en begin luister. Ek het vir my ’n Excel-sigblad gemaak en die liedjies daar begin lys om te besluit watter snitte die finale 100 gaan haal.”
Olinger, wat die span van Zita Films lei, het vertel toe Esterhuyse hulle genader het, het hulle nie besef hoe groot hierdie projek regtig sou wees nie. “Ons het eindelik tussen 200 en 300 ‘takes’ gedoen. Dit was ‘one heck of a ride’ met ure se verfilming en redigering. Ek is baie dankbaar teenoor my span vir hulle hard werk.”
Die verwerkings van hierdie liedjies, wat die kern en rykdom van Afrikaanse musiek vasvang, is nou beskikbaar op YouTube. Sommige van die snitte het ook reeds op TikTok begin opslae maak, met liedjies soos “Leja” wat reeds meer as 100 000 kyke bereik het.
“Dis ongelooflik om die reaksie te sien. Dit wys net hoe diep hierdie liedjies steeds met mense resoneer,” sê Olinger. Die projek het ’n spesiale simboliese mylpaal bereik met die keuse van die 100ste liedjie, “Groete aan Mannetjies Roux”, ’n huldeblyk aan een van Suid-Afrika se geliefde nasionale sportsoorte – rugby.
“Ek dink dit was die perfekte manier om die versameling af te sluit. Dit is ’n liedjie wat diep deel is van ons kultuur en identiteit,” sê Esterhuyse. Om die mylpaal te vier, het hulle ook 'n kompetisie aangebied waarin luisteraars kon raai watter liedjie die 100ste een sou wees, met die ATKV wat ’n wegbreekvakansie as prys geborg het.
Esterhuyse het afgesluit deur sy dank uit te spreek aan al die kunstenaars wat tot die projek bygedra het, insluitend bekende name soos Coenie de Villiers, Jennifer Jones, Jannie du Toit en Matthys Roets. “Dit was ’n voorreg om saam met hierdie talentvolle kunstenaars te kon werk. Dit is ’n herinnering aan die ongelooflike diepte van Afrikaanse musiek en die blywende impak wat dit op ons kultuur het.”
Kyk na die volledige speellys onder:
OFM mvh