Arts
Help om die kunste in die Karoo te laat voortleef deur steun aan Apollo-teater─── 08:00 Tue, 24 Nov 2026
Die Apolloteater is ’n lewendige kultuurtuiste in die hartjie van die Karoo.
In Victoria-Wes, diep in die Karoo, staan ’n besonderse kulturele juweel wat al byna ’n eeu lank ’n tuiste vir stories, musiek, teater en kreatiwiteit bied. Die Apollo-teater, wat in 1928 deur Andrew Basil as ’n bioskoop gestig is, is vandag die oudste Art Deco-teater in Suid-Afrika en die enigste oorblywende Art Deco-flieksaal van sy soort in die land.
Maar die Apollo is veel meer as net ’n geskiedkundige gebou. Dit is ’n lewendige kunste- en kultuursentrum wat ’n belangrike rol speel om die kunste toeganklik te maak vir die mense van die Karoo.
Hanlie Swart, voorsitter van die Apollo Development Association, sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om meer te vertel oor die teater se geskiedenis, sy kulturele waarde en die uiteenlopende kunsaktiwiteite wat hier aangebied word.
Een van die Apollo se belangrike fokusareas is gemeenskapsteater, waar die dorp se kinders die geleentheid kry om by toneelspel en verhoogproduksies betrokke te raak. Kinderteater is ook deel van die aanbod, terwyl kunstenaars en produksiespanne van oor die land heen wat deur Victoria-Wes reis, hier ’n verhoog kry. Die Apollo ontwikkel en bied ook heelwat van sy eie produksies aan, wat plaaslike talent bevorder en gehore aan uiteenlopende kunsvorme blootstel.

Die teater is dus nie bloot ’n plek waar mense na vertonings kom kyk nie, maar ’n ruimte waar talent ontwikkel word, gemeenskappe saamkom en nuwe waardering vir die kunste gekweek word. Besoekers kan ook die museum, geskenkwinkel en koffiewinkel besoek. Hanlie moedig mense wat gedurende Desember en Januarie deur die dorp reis aan om ’n draai te maak en dié besonderse stukkie Suid-Afrikaanse kultuurerfenis self te beleef.
’n Beroep op ondersteuning
Met die Apollo wat oor twee jaar sy 100ste bestaansjaar vier, is daar ook werk wat gedoen moet word om die gebou vir die toekoms te bewaar. Die dak lek en die Apollo Development Association doen ’n beroep op die publiek om by te dra tot die nodige herstelwerk. Elke bydrae help om te verseker dat die teater sy deure vir kunstenaars en gehore kan oop hou.

Vir meer inligting oor die Apollo-teater, komende optredes en besoeke, besoek die Apollo Theatre Victoria West se Facebook-blad. Kontak Hanlie Swart by 083 354 9210 om uit te vind hoe jy die teater kan ondersteun.
Die Apollo-teater bewys dat die kunste nie net in groot stede ’n tuiste het nie. Selfs in die hartjie van die Karoo kan ’n geskiedkundige verhoog steeds nuwe stories vertel, jong talent inspireer en mense deur die liefde vir die kunste bymekaarbring.
