Arts
Projek bring kuns, kleur en hoop na die Noord-Kaap─── 08:00 Thu, 26 Nov 2026
Soms begin ’n groot verandering met ’n eenvoudige idee: Om ’n bietjie kleur te bring waar daar voorheen net kaal mure was.
Dit is presies wat Deidre Vaarland met haar projek, UNITY IN COLOUR, op Ritchie in die Noord-Kaap probeer regkry. Sy beskryf haarself as ’n Ritchie-kind in murg en been.
Sy het op die dorp groot geword en weet hoe dit voel om as kind min blootstelling aan kuns en kreatiewe inspirasie te hê. Vandag, as ’n selfopgeleide kunstenaar, wil sy juis daardie ervaring vir die volgende geslag verander.
Alles wat Deidre oor kuns en verfwerk geleer het, het sy buite Ritchie ontdek. Maar toe sy haar vaardighede ontwikkel, het sy besef dat sy dit nie net vir haarself kan hou nie. Sy wou dit terugbring na die plek wat sy haar huis noem. Saam met haar kêrel het sy die inisiatief geneem om kleur na die dorp se groot, kaal mure te bring en terselfdertyd die gemeenskap by die projek te betrek.
Vir Deidre gaan UNITY IN COLOUR egter oor veel meer as net muurskilderye. Dit gaan daaroor om mense blootstelling aan kuns te gee, hulle nuwe vaardighede te leer en hulle te wys dat daar ook op Ritchie hope kreatiewe talent skuil. Deur inwoners, veral kinders, by die projek te betrek wil sy hulle aanmoedig om hul eie vermoëns te ontdek en met selfvertroue hul kreatiwiteit uit te leef.

Die boodskap wat sy aan die jonger geslag wil oordra, is eenvoudig maar betekenisvol: jy hoef nie van elders af te kom om iets besonders te kan doen nie. Daar is talent en potensiaal in jou eie gemeenskap – soms het dit net iemand nodig om jou die geleentheid te gee om dit raak te sien.
Deidre sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om meer te vertel oor die inspirasie agter UNITY IN COLOUR, waarom dit vir haar belangrik is om haar eie gemeenskap deel van die projek te maak en wat volgende vir die inisiatief voorlê.

Sy hoop om die projek verder uit te brei en nog meer mense by die kreatiewe proses te betrek wanneer hulle in die nuwe jaar voortbou op die kleurvolle fondasie wat reeds gelê is.
Wil jy deel word van die projek of meer uitvind? Soek Deidre Vaarland op Facebook en ander sosialemediaplatforms of skakel 072 352 4881.
UNITY IN COLOUR bewys dat kuns nie net mure mooier maak nie – dit kan ook mense bymekaarbring, nuwe geleenthede skep en ’n hele gemeenskap met hoop inkleur. sm
