On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Arts

Reis saam en ontdek musiekjuwele in ‘Opera & Tango’

───   ELZETTE BOUCHER 18:30 Mon, 14 Jul 2025

Reis saam en ontdek musiekjuwele in ‘Opera & Tango’ | News Article
Foto: Vrystaat Kunstefees

‘Opera & Tango – and beyond’ … beloof om hierdie Julie ook gehore in Bloemfontein te begeester tydens die jaarlikse Vrystaat Kunstefees.

Dié produksie is op die onlangse Innibos-kunstefees in Nelspruit aangebied deur die hoogs begaafde en gewilde klassieke-musiekkunstenaars Zanne Stapelberg (sopraan) en Albie van Schalkwyk (klavier).

Dit bestryk ’n spektrum emosies wat oor drie dele uitspeel met klanke van barok en romantiese opera tot klassieke kabaret, musiekteater en selfs Spaanse klanke en dansstyle soos die zarzuela en tango! “Elkeen van hierdie, maak nie saak waarheen hierdie toer gaan nie, is klein juwele, klein oomblikke, en iemand op die verhoog se lewe wat vasgevang word en uitgebring word deur die komponis,” vertel Van Schalkwyk.

“Ek en Albie is albei ernstige klassieke musici, maar ons het ook so bietjie van ’n rock and roll-siel. Ons hou daarvan om dinge vanuit ’n alternatiewe invalshoek te benader, maar met die integriteit van die genre waarmee ons besig is,” sê Stapelberg.

Dié twee tree al langer as 20 jaar saam op in kunsliedkonserte, wat sorgvuldig voorberei om die beste ervaring aan teatergangers te bied. “Die egtheid van waaroor die musiek eintlik gaan is vir my baie belangrik – nie ’n vertoon van die stem nie, hoewel die stem korrek moet wees,” verduidelik Van Schalkwyk.

Die eerste groep liedere bevat bekende opera-arias en begin met die ontroerende “Lascia ch’io pianga” uit Rinaldo van Handel, gevolg deur Delila se “Mon cœur s’ouvre à ta voix” uit Samson et Dalila van Saint-Saëns en die immergroen “Lied aan die maan” uit Rusalka van Dvorák.

Die tweede groep liedere is ’n vertoon van Spaanse ritmes en warmbloedige passie. Twee liedere van Piazzolla is ingesluit, “Die verlore voëls” en die onweerstaanbare aria “Yo soy Maria” (My naam is Maria) uit die tango-opera Maria de Buenos Aires. Die groep sluit af met die prettige zapateado of Spaanse tarantella uit Gimenez se zarzuela La Tempranica.

In die derde deel kom nommers uit musiekspele aan die beurt. Dit begin met “I could have danced all night” uit My Fair Lady, daarna volg onder meer  die roerende “Unusual Way” uit Nine van Maury Yeston. Die program eindig op ’n heerlike hoogtepunt met die lied “The girl in 14 E” van Jeanine Tesori.


Die program sluit ook klaviersolo’s in wat Van Schalkwyk in die verskillende gedeeltes bydra: Schumann se “Arabeske”, ’n Spaanse dans van Granados en Earl Wild se “Virtuose Etude” gegrond op Gershwin se “Embraceable You”.

Daar wag ook ’n paar verrassings op die gehoor en ou bekendes kry ’n nuwe baadjie. “Klassieke musiek is net soos enige ander musiek,” meen Stapelberg, “daar is nie een genre wat beter is as ’n ander een nie. Goeie musiek is goeie musiek as dit mense ontroer.  ’n Tienerdogter het ná ’n konsert vir my kom sê ‘ek verstaan nie die woorde wat jy sing nie, maar ek weet presies wat jy bedoel’.”

Oor die mylpaal wat die Vrystaat Kunstefees vanjaar bereik, meen Stapelberg dis wonderlik dat daar nog só ’n groot behoefte aan die kunste in Suid-Afrika is, dat ’n kunstefees sy 25ste verjaarsdag kan vier. “Dit sê baie van ons land se mense, maar ook baie van die mense wat agter die skerms die moeite doen om dit te reël. Hulle moet erkenning kry vir al hulle harde werk sodat al ons kunstenaars uiteindelik op die verhoog kan gaan staan en kuns kan maak.”

Van Schalkwyk beaam en voeg by dis besonder, gegewe hoe die fees oor die jare heen ontwikkel het. “Enige iemand kan ’n ding eenmaal reël, maar die deursettingsvermoë om aan te hou met so iets en om dit te laat groei en verander – baie geluk daarmee.”

Tango & Opera is te sien op 15 Julie om 13:30 en 16 Julie om 17:00 in die Odeion-ouditorium op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.

OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.

OFM

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.