Arts
Magda en Erhard verken oudword, kuns en broosheid van herinnering─── ZENANDE MPAME 13:20 Thu, 17 Jul 2025

‘Magda en haar Erhard – how Louw can you go?’ is ’n reis deur twee mense se lewensbeskouing, oudword en die kuns van die lewe se verskillende temas, en sluit ook humoristiese opmerkings in wat op ’n ernstige manier uitgespreek word.
Die produksie vertel die verhaal van Magda en Erhard, ’n ouer egpaar wat probeer om hul vertoning én hul lewe op koers te hou, terwyl een sy woorde vergeet en die ander dit alles moet regtrek – op en van die verhoog af.
Feesgangers kan Magda en haar Erhard Vrydag (18/7) en Saterdag in die ATKV Wynand Mouton-teater sien, waar Erhard aanhoudend sy invalle vergeet en Magda hom telkens moet herinner.
“Ons het altyd gesê ons hou net ’n spieël op teen iets wat met ons almal gebeur – ons word almal ouer,” sê Desiré Gardner, wat Magda speel.
“Dis glad nie daarop gemik om ouer mense of oudword af te maak nie, want jy kan nie spot met iets wat deel is van jou eie lewenspad nie. Ons wou die alledaagse liefde wys tussen twee mense wat al ’n pad saam gestap het – hulle is lief vir mekaar, maar hulle kan ook stry.”
Sy beskryf die produksie as ’n reis deur twee mense se lewensbeskouing, oudword, en die kuns van die lewe se verskillende temas – met tong-in-die-kies humor, maar ook met oomblikke wat tot nadenke stem.
Al vier vertonings van “Magda en haar Erhard – how Louw can you go?” op die Vrystaat Kunstefees is uitverkoop. “Ons kan dit nie genoeg sê nie: Ons is ongelooflik dankbaar teenoor elkeen wat ’n kaartjie gekoop het,” sê Hannes van Wyk, medeakteur.
Die vertoning word in die ATKV Wynand Mouton-teater aangebied. Foto: Zenande Mpame
“Die ondersteuning wat ons van die fees kry, is ongelooflik. Baie mense sien hulself in Magda en Erhard – party sê selfs: dié een is soos my oupa, of daardie een doen presies wat my ma ook doen – en dis lekker om te hoor.”
Die ATKV Wynand Mouton-teater was stampvol Woensdag (16/7), toe mense kom kyk het hoe Magda en Erhard hul ouerword-verhaal op die verhoog uitbeeld.