On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Arts

’n Fees van stories en stemme: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar van groei en gesprek

───   14:12 Sun, 20 Jul 2025

’n Fees van stories en stemme: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar van groei en gesprek | News Article
Michael Garbett en Frida van Niekerk. Foto: OFM

Die 25ste aflewering van die Vrystaat Kunstefees het verwagtinge oortref met bywoning, verkope en betekenisvolle gesprekke wat kunstenaars, gehore en denkers saamgebind het.

Michael Garbett, feesdirekteur, en Frida van Niekerk, kunstemark-organiseerder, het op OFM se blou bank hul vreugde en trots oor dié mylpaal gedeel.

“Ons het strukturele veranderinge aangebring – van die teateruitleg tot programaanbieding – en dit lyk of ons ’n resep gevind het wat regtig werk vir die volgende 25 jaar,” sê Garbett. “Die mense van Bloemfontein het weer eens opgedaag – van onderverkoopte vertonings wat skielik uitverkoop is, tot ’n literatuurfees, internasionale kunstenaars en openbare kunsuitvoerings.

“Die energie op die terrein is positief en ons sien die resultate van jare se verhoudings bou. Dis ’n ruimte waar mense vrae kan vra, gesprekke kan hê en hulself kan vind in die stories wat vertel word.”


’n Merkbare tema vanjaar was identiteit – van manlikheid tot grense en die soeke na selfdefinisie. “Ons wil ’n veilige ruimte skep waar rooiwanggesprekke kan plaasvind,” verduidelik hy. “Soos dr. Max Price dit gestel het: dit gaan oor hoe ons ons vryheid bestuur – om jou opinie te kan hê sonder om iemand anders s’n te ontken.”

Die fees bied ook talle gesprekke en diskoerse aan – nie net vir akademici nie, maar ook vir enige iemand met ’n pannekoek of koedoe-burger in die hand. “Ons wil die jeug insluit, nie uitsluit nie. Dis hoe ons van mekaar leer – deur blootstelling en gesprek.”

Die toekoms lyk belowend. “Daar’s nuwe internasionale feeste wat reeds belangstel om produksies van hier te vertoon. En ’n paar van ons eie produksies sal uitgevoer word – sonder vertaling. Dis ’n reuse-mylpaal.”


Maar eers wag ’n goeie nagrus – ná nog ’n suksesvolle feesjaar waarin ervaring, gemeenskap en kreatiwiteit die middelpunt was. “ ’n Fees is elke jaar ’n pastorale versorgingservaring,” sluit hy af. “En ons werk daaraan om daardie ervaring elke keer ryker te maak – vir almal wat deelneem.”

Intussen het “Prooi”, ’n waaghalsige en meesleurende drama oor mensehandel, stof in die oë van ander produksies geskop op die Vryskitters-toekenningsgeleentheid wat Saterdagaand (19/7) gehou is.

Chris Vorster het met sy “Gebou soos Steffi Graf”, die plaaslike kunstenaars van Bloemfontein se naam hoog gehou en ook ’n klompie pryse ingeoes.

“Prooi”, met Sue Diepeveen, Ignatius van Heerden, Penny Wolhulter en Ryan Rossouw, gee in die verhoogstuk aan die gehoor ’n ervaring van hoe ’n sindikaat te werk gaan in mensehandel.


Garbett  meen vanjaar se Vryskitter-wenners verteenwoordig die hart en siel van die Vrystaat Kunstefees: kreatiwiteit, uitnemendheid en dapper storievertelling.

“Die gehalte van werk wat ons vanjaar op die verhoog en in die galerye gesien het, was eenvoudig uitsonderlik. Kunstenaars het die grense verskuif, gehore aangegryp en ’n kulturele erfenis versterk waarop ons trots kan wees.

“Hierdie silwerjubileum was een van ons mees suksesvolle feeste nóg en dit is ’n viering van 25 jaar se kuns, gemeenskap en groei.

“Ek wil elke kunstenaar, elke feesganger, elke borg, elke medewerker en elke ondersteuner van die kunste bedank. Julle is die rede hoekom hierdie fees nie net voortgaan nie, maar sterker word. Julle dra by tot ’n nalatenskap wat, ek glo, vir geslagte sal voortleef.”


Volledige lys wenners:

  • Beste produksie: Prooi/Prey
  • Beste regisseur: Johan Smith, Johan van der Merwe, Lihan Pretorius vir Prooi/Prey
  • Beste vertolking: Chris Vorster
  • Beste ondersteunende vertolking: Penny Wolhuter
  • Beste stelontwerp: Gebou soos Steffi Graf
  • Beste kostuumontwerp: Isn’t this just Divine, Ethel?
  • Beste musikale komposisie: Klarinet Fantasieë
  • Beste grensverskuiwende werk: Prooi
  • Beste visuele kunsinstallasie: Empathetic Apprentice
  • Beste opkomende kunstenaar: Norman Doubell
  • Beste tegnikus: Paquot
  • Beste boekverkoper by die literatuurfees: Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes de Villiers
  • Beste bemarkingsveldtog: öh
  • Beste Suid-Afrikaanse kortfilm: Echoes of the land

Vinnige feite 2024:

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.