Arts
Die wêreld is sy verhoog en pianis Christian-Peter Hiemstra (15) is reg vir sy SA toer─── 09:30 Tue, 10 Feb 2026
Christian-Peter Hiemstra is slegs 15 jaar oud, maar studeer reeds voltyds aan die Hochschule für Musik in Basel, Switserland, en het al ‘n lang lys pryse en prestasies agter sy naam.
Hy sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om te vertel oor sy lewe in Switserland, sy liefde vir die klavier en natuurlik om sy opwinding te deel oor sy toer na Suid Afrika. Hy is op 21 Februarie op die verhoog in die Odeion in Bloemfontein.
Daar is musikante wat talent het, en dan is daar musikante wat ’n instrument eenvoudig laat lewe. Op slegs 15 is die internasionale musiekwêreld reeds gaande oor Christian-Peter.
Terwyl die meeste tieners hul besig hou met skoolwerk en sosiale media, verower hierdie jong Suid-Afrikaner die verhoë van Europa – en nou is hy op pad huis toe!
Van Londen na Basel: ’n Reis van uitnemendheid
Christian-Peter se pad na sukses het reeds vroeg begin. Op die ouderdom van nege is hy toegelaat tot die gesogte London Royal College of Music. Vandag studeer hy voltyds aan die Hochschule für Musik in Basel, Switserland, onder die leiding van die meester Benedek Horváth.
Sy CV lees reeds soos dié van ’n ervare veteraan, met prestasies wat sy uitsonderlike talent beklemtoon.
Hy het sy orkes-debuut op die jong ouderdom van twaalf gemaak toe hy Grieg se uitdagende Klavierkonsert in A-mineur saam met die wêreldbekende Britten Sinfonia uitgevoer het.

Christian-Peter Hiemstra. Foto verskaf
Sedertdien het hy talle internasionale bekronings ingepalm, wat wissel van die Kronberg-kompetisie tot die gesogte Rospigliosi-toekenning in Italië.
Sy wêreldreise het hom reeds na groot verhoë in Duitsland, Switserland, Litaue en die Verenigde Koninkryk geneem, waar hy gehore telkens met sy virtuositeit betower.
Dit is nie net sy tegniese vaardigheid wat indruk maak nie, maar die diep emosie waarmee hy elke noot speel. Resensente beskryf sy musiek as “wonderbaarlike klanke met persoonlikheid, waagmoed en roerende, verfynde emosie”.
Die Suid-Afrikaanse toer: Moenie dit misloop nie!
Christian-Peter keer nou terug na sy wortels vir ’n spesiale toer. Musiekliefhebbers in die Rosestad kan op 21 Februarie self sy musiek in die Odeion in Bloemfontein gaan beleef.
Dit is ’n seldsame geleentheid om ’n pianis van hierdie kaliber, wat reeds as een van die voorste van sy generasie beskou word, regstreeks te ervaar.
Op die program
As jy wonder wat om te verwag, is die program vir sy uitvoerings niks minder as asemrowend nie:
Ludwig van Beethoven (1770 – 1827): Sonata No. 21 Op. 53 “Waldstein”
Robert Schumann (1810 – 1856): Fantasiestücke Op. 12
Béla Bartók (1881 – 1945): Suite Op. 14
Franz Liszt (1811 – 1886): Années de Pélerinage, VI. Vallée d’Obermann
