Arts
Aangrypende ‘Braam se engel’ nou in Noordwes-galery─── 09:42 Thu, 09 Apr 2026
’n Prent is ’n duisend woorde werd, lui die gesegde, maar in die geval van die kunstenaar Pieter Lombaard se aangrypende foto getiteld ‘Braam se engel’, het een beeld selfs meer gedoen: dit het hoop gebring vir kunstenaars in nood.
Wat begin het as ’n oomblik tydens die 2024 Momentum Aardklop Nasionale Kunstefees, het onlangs gelei tot ’n merkwaardige mylpaal vir die kunste in Suid-Afrika. In Februarie vanjaar is ’n oorspronklike eksemplaar van Braam se engel amptelik aan die Noordwes-Universiteit se kunsgalery in Potchefstroom oorhandig.
Die kurator by die NWU Galery Sheryl Msomi, sluit by Yolanda Maartens aan om te vertel hoe dié foto ’n werklike verskil gemaak het in die lewens van kunstenaars en teatermakers in ons land. Die foto, geneem deur Pieter Lombaard, is ingespan om fondse in te samel vir die Teaterbystandsfonds (TBF).
Die NWU is ook nou die amptelike bewaarder van Momentum Aardklop se permanente uitstalling, ’n idee waaraan die ikoniese storieverteller Nataniël lewe gegee het.
’n Foto met ’n doel
Die storie van hierdie foto is een van uiterste vrygewigheid. Tydens die fees het Aardklop se uitvoerende hoof, Alexa Strachan, en haar span besef Lombaard se foto van "die engel", wat hy tydens ’n opvoering van Braam se Engel geneem het, mense op ’n diep vlak raak. Daar is besluit om die foto op te veil ten bate van die TBF , ’n organisasie wat ’n reddingsboei is vir kunstenaars en teatermakers wat finansiële steun benodig.
Braam se engel. Foto: Pieter Lombaard
Hier is waar die storie werklik spesiaal word: Die NWU het nie net die wenbod geplaas nie, maar die werk herhaaldelik teruggeskenk sodat dit weer en weer opgeveil kon word. Hierdie "wen-wen" benadering het verseker dat ’n beduidende bedrag vir die TBF ingesamel is, terwyl die kunswerk nou uiteindelik sy permanente tuiste by die NWU Galery gevind het.
Nataniël se visie word werklikheid
Die oorhandiging van die foto is ook die begin van ’n opwindende nuwe hoofstuk toe Nataniël voorgestel het Aardklop begin met die opbou van sy eie permanente kunsversameling om die fees se visuele nalatenskap te bewaar.
Die NWU Galery het ingestem om die amptelike bewaarder van hierdie versameling te wees vir toekomstige geslagte. Dit beteken die kreatiewe gees van die fees word nie net vir een week per jaar beleef nie, maar regdeur die jaar.
’n Vennootskap vir die toekoms
Tydens die oorhandiging het Msomi, die bestuurder van NWU Kunste Jaco van der Walt en Aardklop se finansiële bestuurde Bosman Purén saamgekom om hierdie verbintenis te bekragtig. "Dit is ’n bewys van wat moontlik is wanneer instansies hande vat om die hartklop van ons kultuur, ons kunstenaars, te beskerm."
Agter is Alexa Strachan, uitvoerende hoof van Aardklop en Sheryl Msomi, kurator van die NWU Galery. Voor is Jaco van der Walt, bestuurder van NWU Kunste en Bosman Purén, Aardklop se finansiële bestuurder.
Ondersteun só die kunste
Die Teaterbystandsfonds doen onskatbare werk. Besoek gerus hul webwerf by tbfsa.co.za om te sien hoe jy ook ’n verskil kan maak.
Bly op datum met Aardklop:
Webblad: aardklop.co.za
Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
OFM Nuus cvdw

