On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Arts

Gratis skryfkursus soek nuwe Afrikaanse stemme in Kimberley

───   SUSAN MARÉ 13:12 Mon, 17 Aug 2026

Gratis skryfkursus soek nuwe Afrikaanse stemme in Kimberley | News Article
’n Gratis kreatiewe skryfkursus word van 14 tot 18 Oktober in Kimberley aangebied. Foto verskaf

Opkomende Afrikaanse skrywers, digters en dramaturge kan nader staan vir ’n kreatiewe skryfkursus in Kimberley.

Die kursus van 14 tot 18 Oktober word deur die Jakes Gerwel-stigting (JGF) en die Sentrum vir Kreatiewe Skryfkunde en Afrikatale aan die Sol Plaatje Universiteit aangebied. Dit  is vir opkomende skrywers van enige ouderdom wat nog nie voorheen gepubliseer het nie.

Die genres waarin kursusgangers opleiding sal ontvang, is gedigte, kortverhale en dramas. Deelnemers kan jonk of bejaard wees, sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die JGF.

“Die doel van hierdie projek is om nuwe skrywerstemme te vind en stories, toneelstukke en gedigte te help ontwikkel wat ons letterkunde sal verryk en verruim. Daar word veral gesoek na stories oor gemeenskappe wat nog nie voldoende oopgeskryf is nie.”Die JGF bied jaarliks intensiewe mentorskapsprogramme aan by Paulet Huis op KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap. Hierdie geskiedkundige huis het aan Jakes Gerwel behoort en is na sy dood deur sy weduwee, Phoebe, aan die stigting geskenk.

Gerwel was ’n intellektueel en brugbouer wat daarin geglo het opvoeding en die ontsluiting van alle Suid-Afrikaners se potensiaal is die boustene vir ’n gelyke samelewing.

“Ons is ernstig oor die bevordering van die letterkunde, juis omdat ons die waarde van woorde besef. Boeke kan genees, mense bymekaar bring en groter begrip vir mekaar skep,” sê hy. 

Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting. Foto verskaf

“Die belangrikheid van skrywers in ons samelewing mag nooit onderskat word nie. Ons is ook ernstig om jong lesers te skep deur stories oor gemeenskappe.”

Belangstellendes moet teen 18 September ’n kort skywersbiografie, volledige kontakbesonderhede en een van die volgende vir Kemp e-pos: Vyf gedigte, een kortverhaal, ’n hoofstuk uit ’n roman, of ’n dramateks. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Inskrywers moet ook ’n kort motivering aanheg oor hoekom hulle graag wil inskryf.

Die skryfkursus is gratis en opkomende Afrikaanse skrywers kan kundige leiding in die genres te wagte wees. Dit projek is in samewerking met groot en klein uitgewers.

Kemp sê van die stigting se kant is daar kommer omdat nie al die opkomende skrywers hiervan te hore kom nie en ’n groot geleentheid verlore gaan. “Ons hoop dat die nuus van hierdie skryfgeleentheid in die Noord-Kaap en veral Kimberley bekend sal word.”

Meer inligting oor die Jakes Gerwel-stigting is op die stigting se webblad beskikbaar. 

OFM Nuus/Susan Maré sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.