Arts
Kom saam na Agrabah met ballerinas, ‘n lampgees en hope pret─── 08:00 Thu, 22 Oct 2026
Kom saam na Agrabah vir ’n magiese avontuur met vlieënde matte, ’n lampgees (genie) en hope pret wanneer die Elna van der Walt-balletskool Aladdin op 20 en 21 November in die Sand du Plessis-teater aanbied.
Die bekende Disney-verhaal van Aladdin, prinses Jasmine, Jafar en die Genie word op ’n besondere manier lewend gemaak deur meer as 200 dansers. Gemeenskapsakteurs deel die verhoog met die ballerinas.
Vir die dansers is dit ook ’n geleentheid om die ervaring van ’n groot teaterproduksie te beleef en hul harde werk en liefde vir ballet met ’n gehoor te deel. Die produksie bring dansers van verskillende ouderdomme bymekaar en kombineer ballet met ’n bekende storie wat gehore van alle ouderdomme kan geniet.

Dansers aan die oefen. Foto verskaf
Yolanda Maartens het in die jongste OFM Kunsteklop met Elna van der Walt, vervaardiger en regisseur, Elrine Mitchell, assistentvervaardiger, en Jaco Enslin, wat die rol van die Genie vertolk, gesels.
Hulle vertel meer oor waarom Aladdin as die produksie gekies is, wie almal by die vertoning betrokke is en hoe dit is om met soveel jong dansers op een verhoog saam te werk. Jaco gee ook ’n kykie na sy rol as die Genie en wat gehore van dié geliefde karakter kan verwag.

Van links is Jaco Enslin, Elna van der Walt en Elrine Mitchell.
Met bekende musiek, kleurvolle karakters, ballet, avontuur en natuurlik ’n goeie skeut Disney-betowering, beloof Aladdin om ’n feestelike produksie vir die hele gesin te wees.

So, maak gereed vir ’n reis na Agrabah en ’n bietjie betowering op die Sand se verhoog!
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets. sm
