Arts
Kevin Leo bring sy stem en liefde vir sang terug na Suid-Afrika─── 08:00 Tue, 27 Oct 2026
As jy Kevin Leo se stem hoor, weet jy dadelik wie dit is. Die geliefde Suid-Afrikaanse sanger, wat deesdae in Panama woon maak hom gereed vir ’n besoek aan Suid-Afrika in Oktober en November.
Kevin Leo sluit by Ashmund Martin aan in OFM Kunsteklop om meer te vertel oor sy komende optredes, sy musikale reis en die besonderse plek wat musiek steeds in sy lewe speel.
Sy loopbaan strek oor dekades, maar sy passie vir musiek en sy vermoë om gehore met sy kenmerkende stem te bekoor bly onveranderd. Hy vertel ook meer oor hoekom hy ons eie “Little Pavarotti” is.
Kevin praat ook oor die tydlose krag van musiek en waarom sekere liedjies daarin slaag om mense oor generasies heen aan te raak. Suid-Afrikaanse gehore kan uitsien na twee besondere produksies tydens sy besoek. Crooner Velvet is ’n huldeblyk aan die goue era met tydlose treffers van musieklegendes soos Frank Sinatra, Dean Martin, Nat King Cole en Andy Williams.
Met Kevin se onmiskenbare stem, indrukwekkende visuele elemente en gevorderde klanktegnologie word gehore op ’n nostalgiese musikale reis geneem. Die produksie vier die kunstenaars en musiek wat oor die jare heen ’n blywende indruk op luisteraars en gehore gemaak het.

Kevin Leo. Foto verskaf
Met Letters from Panama bied Kevin ’n meer intieme musikale ervaring. Hierdie produksie gee gehore die geleentheid om hom vir ’n private optrede in die gemak van hul eie huis te ontvang en ’n onvergeetlike musikale oomblik met familie en vriende te deel. Met sy veelsydige stem beweeg hy moeiteloos tussen geliefde Afrikaanse en Engelse liedjies, met ’n tikkie Italiaans en Spaans daarby.
Tydens die gesprek vertel Kevin ook wat gehore in Sentraal-Suid-Afrika van sy komende optredes kan verwag en wat hy hoop hulle ná ’n vertoning sal voel of onthou. Vir hom gaan dit immers oor meer as net die sing van bekende liedjies – dit gaan oor die emosie, die herinneringe en die verbintenis wat musiek tussen mense skep.
Vir meer inligting kontak Elizma by 082 926 0293.
OFM dg
