Arts
Suid-Afrikaanse erfenis in parfuumbottel vasgevang─── DITEBOGO MOLEFI 15:52 Mon, 26 Oct 2026
Vir ’n jong parfumeur (parfuummaker) bied Suid-Afrikaanse fynbos ’n geurige manier om haar kultuur te vier.
Zêa Stack (25) is die stigter van Verryk, ’n parfuumhandelsnaam, wat haar trots op haar herkoms weerspieël. Deur geure te skep wat deur Suid-Afrikaanse plante geïnspireer word, wil sy plaaslike natuurskoon wêreldwyd bekendstel.
Hoewel Stack in Knysna gebore is en tussen die Kaapse fynbos grootgeword het, lê haar familie se wortels diep in Bloemfontein. Haar grootouers, die Hays en Hattinghs, kom almal uit die Rosestad.
Haar oupa Arrie Hattingh was ’n appèlregter, terwyl haar onderwyseres-ouma André Hay Afrikaans en musiek gegee het. Sy glo haar liefde vir Afrikaans en musiek spruit uit dié familie-erfenis.

Die unieke fynbosparfuum. Foto verskaf
Sy en haar man, Michael Stack, ‘n musiekdosent aan die Universiteit van die Vrystaat, woon in Bloemfontein. Haar passie vir parfuum het ná skool begin, toe sy besef het dat sy die kuns van parfuumvervaardiging wou bemeester. Dié rigting word nie as ’n graad in Suid-Afrika aangebied nie en sy het aanlyn begin studeer. Sy het ’n kursus van ses maande in parfuumvervaardiging voltooi en daarna ’n internskap by ’n botaniese parfumeur in Johannesburg. Hierdie ervaring het haar praktiese kennis verbeter en haar passie versterk.
Verlede jaar het sy ’n diploma aan The Perfumery Arts School in Brittanje met onderskeiding behaal. Haar finale eksamenparfuum het die naam Eie gekry. Eie (die Afrikaans vir “my own”) is meer as net ’n naam. Dit verteenwoordig Stack se visie om ’n persoonlike geur uit haar eie land se natuurlike bestanddele te skep, met fynbos as die kern.
Die geur neem jou op ’n reis deur die Suid-Afrikaanse landskap. Die eerste gewaarwording is vars en groen, geïnspireer deur slangbos in die vroeë oggend, wanneer die plante silwer blink en dou nog oral op die blare lê.
Daarna kom Eie se meer blomagtige geur na vore, met roosagtige fynbosnote en roosmalva wat sterk deurkom. Dié plant, wat ook ’n belangrike bron van parfuumbestanddele wêreldwyd is, het haar waardering vir plaaslike plante aangewakker.
Die finale geurnote herinner aan houtagtige fynbosplante wat deur die son verhit word. So vang Eie verskillende oomblikke van die Suid-Afrikaanse natuur vas en omskep dit in ’n persoonlike geurervaring. Die behoud van erfenis is nie net ’n terugblik op die verlede nie, maar ’n manier om mense aan te moedig om hul eie identiteit te vier. Sy glo elke kultuur het iets besonders om te bied.
Verryk is besig om Eie en ’n tweede parfuum, Nanag, bekend te stel. Nanag is deur ’n nagtelike boslandskap en ’n irisblom geïnspireer, met vars, poeieragtige, blomagtige en houtagtige geurnote. Die parfuums sal na verwagting binnekort beskikbaar wees. .
Deur Eie gee sy haar erfenis tasbaar weer, in ’n formaat wat mense kan dra en ervaar. Die boodskap is eenvoudig: Vier wie jy is, waar jy vandaan kom en wat jou uniek maak.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

