Arts
KombuisStories: Wanneer resepte begin sing─── 08:00 Tue, 10 Nov 2026
Kos, musiek en stories kom op Fauresmith bymekaar vir ’n viergang-langtafelervaring soos min.
Wat gebeur wanneer ’n meesterlike kok en ’n liedjieskrywer besluit om resepte nie net te kook en te proe nie, maar ook te laat sing? Dit is die inspirasie agter KombuisStories, ’n unieke langtafelervaring wat op 5 Desember 2026 in Fauresmith aangebied word.
Sjef, kosskrywer en storieverteller Frik de Jager span kragte saam met die sanger, liedjieskrywer en visuele kunstenaar Jacobus Silwer vir ’n besondere aand waar kos, musiek en herinneringe saamvloei.
Frik de Jager is bekend as gereelde radiogas en skrywer van die kookboeke StorieKos – Op reis na resepte en KoesterKos – Resepte uit ons ma’s se kombuise. Sy liefde vir kos strek veel verder as bestanddele en kooktegnieke. Vir hom dra elke gereg ’n geskiedenis, ’n herinnering en ’n storie.
Jacobus Silwer, wat op Fauresmith woon en werk, het naam gemaak as sanger, liedjieskrywer en visuele kunstenaar. Ná sy deelname aan kykNET se Ons Soek Die Sanger as deel van die duo Silwer en Goud, het hy sy eie pad as solo-musikant en kunstenaar verder uitgebou.
Vir hierdie besondere samewerking het Jacobus Frik se resepte en die stories daaragter as inspirasie gebruik om oorspronklike liedjies te skep. Terwyl Frik die geregte voorberei, bring Jacobus die stories daardeur met musiek tot lewe.

Gaste kan uitsien na ’n viergang-langtafelmaaltyd, voorberei deur Frik, met lewende musiek geïnspireer deur sy kookboeke, resepte en die herinneringe wat kos by ons oproep.
Yolanda Maartens gesels op OFM se Kunsteklop oor hierdie besonderse samewerking en die kreatiewe idee agter KombuisStories – ’n viering van kos, musiek, herinneringe en goeie geselskap.

Die ervaring vind op 5 Desember om 18:30 by Jangroentjie op Fauresmith plaas. Kaartjies kos R450 per persoon en besprekings is noodsaaklik.
Vir besprekings en navrae, bel Lizzy by 071 603 7258.
KombuisStories – want sommige stories word vertel, ander word gekook, en party moet eenvoudig gesing word. sm
