Arts
Moenie bekroonde eenmanvertoning in Bloemfontein misloop─── 08:00 Tue, 17 Nov 2026
’n Bekroonde Suid-Afrikaanse teaterproduksie wat gehore reeds nasionaal en internasionaal aangegryp het, keer binnekort terug na Bloemfontein.
Rooilug, ’n kragtige eenmanvertoning wat op ’n ligter trant moeilike en dikwels versweë onderwerpe soos gesinsgeweld en verkragting ondersoek, sal van 24 November tot 3 Desember in die Rosestad te sien wees.
Skrywer, regisseur, akteur en Bloemfonteiner Jefferson J. Dirks-Korkee sluit by Yolanda Maartens aan in OFM Kunsteklop om meer te vertel oor die produksie en sy opgewondenheid om dit weer voor plaaslike gehore op te voer.
Rooilug vertel verhale oor die uitwerking van gesinsgeweld en seksuele geweld op gesinne, veral binne kleiner gemeenskappe in Suid-Afrika. Hoewel die temas ernstig is, word dit op ’n toeganklike en soms humoristiese manier aangebied, wat ruimte skep vir gesprekke oor kwessies waaroor dikwels stilgebly word.
Die produksie het in 2018 tydens die Vrystaatse Kunstefees se Vrynge-program gedebuteer en is besonder goed deur gehore ontvang, met drie staande ovasies en selfs ’n onbeplande vertoning vir feesdirekteure van oor die land heen.

Sedertdien het Rooilug nasionaal en internasionaal getoer. Die sukses daarvan het ook gelei tot ’n rolprentverwerking vir DStv, asook die publikasie van die verhaal as ’n boek in Afrikaans én Engels.
Die produksie het verskeie benoemings en toekennings ontvang, waaronder die Vrystaatse Kunstefees-toekenning vir Beste Vrynge-produksie en die National Arts Festival Silver Ovation-toekenning. Dit is ook vir verskeie KKNK- en Woordfees-toekennings benoem, asook ’n DStv kykNET Fiësta-benoeming vir Beste Solo-kunstenaar.
In samewerking met Flipping the Scripts, PENM Productions, ASSITEJ South Africa en die Performing Arts Centre of the Free State (PACOFS) word leerders ouer as 16 en volwassenes uitgenooi om dié besondere produksie te ervaar.

Rooilug is meer as net teatervermaak – dit bied ’n geleentheid om moeilike gesprekke aan te pak, bewusmaking te bevorder en aandag te vestig op realiteite wat dikwels agter geslote deure afspeel.
Jefferson is opgewonde om plaaslike gehore weer by die teater te verwelkom en hoop dat die produksie mense sal aanmoedig om nie langer stil te bly oor sake wat gesinne en gemeenskappe raak nie.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets. sm
