On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Bloemfontein Water Crisis

Nuutste oor #BloemWaterCrisis

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:19 Mon, 20 Nov 2017

Nuutste oor #BloemWaterCrisis | News Article

Inwoners van sekere dele van Bloemfontein is steeds sonder water. Gebiede in die noordelike deel van dié stad word nou ook geraak.


Inwoners in Dan Pienaar, Pentagonpark en Heuwelsig, wat die naweek nog water gehad het, se krane is vanoggend droog, terwyl ander inwoners in die noorde slegs 'n dun straaltjie water het. Woordvoerder van die Mangaung-metro, Qondile Khedama, sê die situasie rondom watertoevoer na dele van die stad word gemonitor en inwoners sal voortdurend op die hoogte van sake gehou word. Dit kom nadat inwoners van die suidelike deel van Bloemfontein sedert Dinsdag sonder water is.

Watertoevoer na dié deel van die stad is afgesny nadat Bloemwater beplande herstelwerk aan 'n pyplyn naby die Brandkop-reservoir gedoen het. In die proses was daar 'n lekkasie by die De Hoek-pompstasie. Watertoevoer sou teen Donderdag en Vrydag herstel word en inwoners sou teen Saterdagoggend water hê. 'n DA-raadslid en 'n ingeligte betreffende waterkwessies, Rossouw Botes, sê 'n deel van die Welbedacht-hoofpyplyn buite Bloemfontein het egter Saterdagmiddag sowat 103km van die Brandkop-reservoir in Bloemfontein gebars. Bloemwater het met herstelwerk begin.

Water sou teen gisteraand in die pyplyn na die Brandkop-reservoir gepomp word. Inwoners in die suidelike deel van die stad het steeds nie vanoggend water nie. Volgens hom was reservoirs wat water aan die noordelike deel van die stad verskaf, gisteraand bykans leeg. In 'n inligtingstuk wat deur die DA op sosiale media versprei word, sê 'n raadslid van dié party, Dirk Kotze, alles verloop seepglad om water na reservoirs in die stad te pomp.

Luidens die inligtingstuk het water in die pyplyn vanoggend teen 06:00 by die Grootvlei-gevangenis geloop. Die water sal na verwagting verskeie reservoirs in Bloemfontein eers vandag teen 12:00 bereik. Die waterstelsel sal dan eers gevul moet word.

Botes sê die oorsaak van die waterprobleme in die noordelike deel van die stad is in die stadium onbekend, maar na wat verneem word, is die Navalsig-reservoir slegs 6% vol water en die Arboretum-reservoir slegs 9% vol. Dit is water wat van die Maselspoort-watersuiweringsaanleg vloei en by die Hamilton-pompstasie na dié twee reservoirs gepomp word. 


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.