Business
Onlangse NK-brande onder beheer, 'maar wind steek op'─── BLAINE JONES 13:01 Thu, 09 Sep 2021
Alle groot brande in die Daniëlskuil-omgewing in die Noord-Kaap is onder beheer.
Die hoofbestuurder van die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging, Johann Breytenbach, wat ook die bevelvoerder van die Noord-Kaapse brandbestrydingspanne is, sê die laaste van die brande was die Koopmansfontein-brand. Hy sê die McCarthy-brand, wat die Botswana-grens oorgesteek het na die Noord-Kaap, is ook onder beheer gebring.
Breytenbach waarsku dié week se weerstoestande in die provinsie is 'n brandgevaar. Hulle is voorbereid om nuwe brande effektief te bestry. Van Donderdag af dui die brandgevaarindeks aan dat die weer in die algemeen gaan verander, en die indeks gaan dramaties toeneem na Vrydag met sterk winde. Die windspoed neem veral Vrydag toe wanneer die wind na verwagting konstant teen 35km/uur sal waai. Hoër temperature met relatiewe humiditeit maak toestande bevorderlik vir wegholveldbrande, voeg Breytenbach by.
Hy sê dit is waar die areas van bekommernisse is. "Hotspots, wat op die brandlyne is maar onder beheer is, kan onder hierdie toestande opvlam en veroorsaak dat bykomende brande of brande verder versprei, wat groot probleme veroorsaak. Ons gaan die situasie monitor en mense op hoogte hou van moontlike verwikkelings. Ons is op die punt om van Donderdag af in 'n gevaarlike tydperk in te gaan, veral oor Vrydag en die naweek, maar nou is alles onder beheer," voeg Breytenbach by.
OFM-nuus/Blaine Jones
