On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Business

DA wil hof toe oor ANC se radikale rasteikens

───   10:54 Wed, 07 Jun 2023

DA wil hof toe oor ANC se radikale rasteikens | News Article
FOTO: The Economic Times

Die Demokratiese Alliansie (DA) sê hy gaan die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria nader om verskeie afdelings van die Wysigingswet op Diensbillikheid ongrondwetlik en ongeldig te verklaar.

“In ons voorlegging sal die DA demonstreer dat die term ‘numeriese teikens’ wat deur die Wet gebruik word, ‘n verkeerde benaming is en dat die wet in werklikheid rigiede raskwotas stel,” sê DA-leier John Steenhuisen.

“Die wet bemagtig die Minister van Indiensneming en Arbeid om kwotas vas te stel wat spesifieke demografiese samestellings bepaal wat werkgewers moet bereik, asook die oplê van ernstige strawwe – insluitend belet word om sake met die staat te doen, die kansellasie van bestaande staatskontrakte en dwingende bevele en boetes.”

‘Wet gee mag in hande van een minister’

Steenhuisen sê dié kwotas kom neer op rasgebaseerde werkreservering “op 'n skaal wat laas voor 1994 gesien is”.

“Dit bied geen buigsaamheid aan werkgewers om te bepaal wat haalbaar is in hul eie sakeomgewing nie, maar sentraliseer eerder die mag in die hande van een minister om die rassesamestelling van werkplekke regoor die land te dikteer. In sommige provinsies en sektore stel dit die kwota vir bruin en Indiër Suid-Afrikaners op 0% en 0,1%. In ander gevalle, soos in die Noord-Kaap, sal maatskappye die wet oortree as hulle ‘te veel’ swart vroue in diens neem.”

Steenhuisen waarsku dat “drakoniese rasgebaseerde wetgewing” sal lei tot massa-werkverliese en ’n kapitaal- en vaardigheidsuittog uit die land sal versnel. “Die ANC se kwotawet is duidelik ontwerp om rasseverdeling vir politieke doeleindes te saai.”

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.