Business
Vaaldriehoek se sakeleiers wil duidelikheid kry oor Amsa-afleggings─── OLEBOGENG MOTSE 15:28 Wed, 06 Dec 2023
Hulle kyk spesifiek na ’n vergadering Vrydag om 09:00. Dit moet nog bevestig word.
Vaaldriehoek se sakeleiers wil duidelikheid kry oor Amsa-afleggings
Die uitvoerende hoof van Vaal Business Cooperation, Klippies Kritzinger, het aan OFM Sakeuur gesê dat sakeleiers insae wil hê in die herstruktureringsproses en om die implikasies daarvan te bespreek.
Die staalprodusent het aangekondig dat die bedrywighede by die Newcastle- en Vereeniging-aanleg van Januarie gestaak word. Minstens 3 500 poste word geraak. Amsa blameer die besluit op Transnet se ondoeltreffendheid.
Vaalweekblad berig Kritzinger, Jaco Verwey, voorsitter van die Vaaldriehoekse Sakekamer; en Prince Skele, voorsitter van Sedibeng Business Community, wil met Amsa se uitvoerende hoof, Kobus Verster, vergader.
Kritzinger sê hul aanvanklike versoeke as 'n groep is geweier en hulle is nou in die proses om Amsa deur ander partye te betrek. Hulle kyk spesifiek na 'n vergadering Vrydag om 09:00. Dit moet nog bevestig word.
LEES OOK: Vaaldriehoek sakekamer veg vir lede se regte
Kritzinger, sê die sakegemeenskap is geskok oor die tydsberekening van Amsa se aankondiging.
Die meerderheid van die 3 500 poste is by die Newcastle-aanleg, maar Vereeniging kan nie enige afleggings bekostig weens die swak ekonomie in Suid-Gauteng.
Dienslewering in die Emfuleni-munisipaliteit bestaan nie en belemmer ekonomiese groei in Vereeniging en omliggende gebiede.

Kritzinger sê as jy dit in konteks plaas sorg een persoon vir ’n gesin van vyf tot sewe mense. Afleggings kan dus vernietigend op families wees.
Amsa het bespiegelings verwerp dat 900 permanente en kontrakteursposte in die Vaaldriehoek kan wegval. Vaalweekblad sê Amsa het laat weet dat slegs 189 afleggingsbriewe na verwagting binne die volgende paar dae uitgereik sal word.
