Central SA
Verkeer by Brandfort-tolhek ná rooftog ontwrig─── 10:28 Tue, 02 Jul 2019
‘n Gewapende rooftog wat vanoggend in Brandfort in die Vrystaat plaasgevind het, het die verkeer by die Brandfort-tolhek laat ophoop.
Die tolhek was gesluit vir motoriste nadat die polisie een van die verdagtes daar vasgetrek het.
Motoriste het OFM-nuus op hoogte gehou terwyl hulle in die verkeersopeenhoping gesit het.
Polisiewoordvoerder, Lorraine Earle, sê die verdagtes het ‘n vragmotor gekaap wat sigarette vervoer het. Vinnige optrede van die polisie het daartoe gelei dat die eerste verdagte in die dorp in hegtenis geneem is. Die tweede verdagte is toe by die tolhek vasgetrek. Niemand is sover bekend in die voorval beseer nie. Die ondersoek duur voort en die tolhek is weer oop vir verkeer.
OFM-nuus/Elsabe Richard
