On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Benita
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum en VF Plus gaan voort met NGV-teenkanting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Sat, 28 Nov 2026

AfriForum en VF Plus gaan voort met NGV-teenkanting | News Article
Die stryd teen die omstrede NGV is nog lank nie verby nie, Foto ter illustrasie: iStock

Die stryd teen die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nog lank nie verby nie, ondanks ’n uitspraak van die Konstitusionele hof wat twee regsuitdagings oor die parlement se openbaredeelnameproses van die hand gewys het.

AfriForum en die VF Plus sê hulle sal voortgaan met hul teenkanting teen die NGV-wet. Die Konstitusionele Hof het Donderdag (27/11) die aansoeke van die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers en die Wes-Kaapse premier van die hand gewys.

Die twee aansoeke het die openbaredeelnameprosesse van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) met betrekking tot die NGV-wetsontwerp op prosedurele gronde betwis.

AfriForum sê die uitspraak verander niks aan sy eie hofgeding nie, aangesien dié organisasie nie die wet op grond van die openbaredeelnameproses betwis nie, maar eerder die grondwetlikheid van die inhoud daarvan.

Ernst van Zyl. Foto: AfriForum

Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, sê die burgerregteorganisasie is steeds vol vertroue dat die wetgewing uiteindelik op grond van sy inhoudelike besware in die hof omvergewerp sal word.

“Die skema bly onbekostigbaar, onuitvoerbaar en onredelik. Jy kan nie sommige mense se bestaande toegang tot private gesondheidsorg beperk om die illusie van toegang vir almal te skep nie. AfriForum glo vas dat sy beginselbesware steeds geldig is.”

AfriForum se regsgeding in die hooggeregshof in Pretoria fokus onder meer op wat die organisasie beskryf as die afwatering van provinsiale regerings se grondwetlike bevoegdhede oor gesondheidsorg, die beperking van pasiënte se vryheid van keuse en gesondheidspraktisyns se kliniese onafhanklikheid.

'Hofstukke in AfriForum se saak is reeds in Februarie ingedien'

Die NGV-raamwerk is glo ook weens die ekonomiese onuitvoerbaarheid daarvan nie rasioneel nie en dat die wet individue se fundamentele regte op verskeie maniere skend. Hofstukke in AfriForum se saak is reeds in Februarie ingedien. Van Zyl sê hulle wag nog op die verweerders se antwoord op AfriForum eis.

Die VF Plus sê op sy beurt die uitspraak beteken nie dat die stryd teen die NGV verby is nie. Philip van Staden, hoofwoordvoerder oor gesondheid, sê die party respekteer die hof se beslissing, maar wys daarop dat die hof self verdeeld was.

Philip van Staden. Foto: VF Plus

“’n Minderheidsuitspraak het bevind dat die NRP se openbaredeelnameproses onredelik en ongrondwetlik was.” Die VF Plus meen daar is nie behoorlik gehandel met die 338 891 skriftelike voorleggings wat belanghebbendes destyds oor die NGV by die parlement ingedien het nie.

Van Staden sê daar is nooit voldoende terugvoer aan die portefeuljekomitee vir gesondheid gegee oor hoeveel kommentaar ten gunste van of teen die wetsontwerp was nie. Hy sê dat dit die openbaredeelnameproses verydel het en dat komiteelede destyds nie eens ’n enkele een van die voorleggings self gesien het nie.

Die party waarsku ook dat die ANC nie te vroeg oor die uitspraak moet feesvier nie, aangesien verskeie ander regsuitdagings teen die NGV-wet steeds voor die howe dien.Organisasies wat volgens die VF Plus verdere hofverrigtinge ingestel het, sluit in Solidariteit, Sakeliga, die Forum vir Private Praktisyns, die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika en die Vereniging van Gesondheidsfinansiers.

Van Staden wys verder op ’n saak waarin pres. Cyril Ramaphosa redes moet verskaf vir sy besluit om die NGV-wet kort voor die 2024-verkiesing te onderteken. Die VF Plus meen die tydsberekening van die ondertekening was daarop gemik om stemme vir die ANC te werf.

AfriForum en die VF Plus sê hulle sal nie hul teenkanting teen die wet laat vaar nie. AfriForum meen Suid-Afrika moet eerder op werkbare en grondwetlike alternatiewe vir die land se gesondheidsorguitdagings fokus, terwyl die VF Plus sê hy sal nie toelaat dat private gesondheidsdienste deur die NGV genasionaliseer word nie.

OFM Nuus dg

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.