Central SA
Webblad vir ouma se mediese en regskoste geskep─── 18:15 Thu, 04 Jul 2019
Die Bloemfonteinse ouma - wie se onderonsie met ‘n personeellid van ‘n plaaslike ouetehuis op kringtelevisie vasgevang is en op sosiale media opslae gemaak het, se familie het vir haar ‘n webblad vir haar mediese en regskoste geskep.
Die 79-jarige Elize Devenish, inwoner van Ons Tuiste Sentrum vir Bejaardes, was met ‘n kombuiswerker in Mei vanjaar in die onderonsie betrokke. Sy het geval, haar arm gebreek en moes dieselfde dag ‘n operasie ondergaan. Volgens Elzarie, haar skoondogter, het Elize tien dae ná haar operasie siek geword en sy moes onmiddellik mediese hulp ontvang.
Dokters het toe ontdek dat sy ‘n beroerte gehad het en haar galblaas is verwyder. Sy is ook met demensie gediagnoseer. Nou het haar familie ‘n Go Fund Me-blad begin waar mense geld kan skenk om tot dié kostes by te dra. Elzarie sê dit gaan goed met Elize, maar sy kan nog nie heeltemal op haar eie beweeg nie. Dokters gaan eers volgende week bevestig of haar hand – wat in die voorval beseer is, al gesond is.
‘n Klag is teen die kombuiswerker aanhangig genaak, maar die hofsaak is nog nie afgehandel nie.
OFM-nuus/Elsabé Richard
