Central SA
Sestien in hof weens NK-betogings─── 09:06 Thu, 12 Sep 2019
Inwoners wat in hegtenis geneem is tydens die betogings wat vandeesweek in Ritchie in die Noord-Kaap plaasgevind het, sal Donderdag in die Kimberley-landdroshof verskyn.
Raadslid John Makhamba het aan OFM-nuus bevestig dat 16 inwoners vir openbare geweld in hegtenis geneem is. Hy het bygevoeg dat dit 'n jammerte is dat mense in hegtenis geneem moes word en hy hoop dat so iets nie weer sal gebeur nie. Hy het ook gesê hulle hoop dat 'n oplossing gevind sal word om die huidige situasie te beëindig.
Dit kom nadat lede van die gemeenskap sedert Maandag betoog het weens hul ongelukkigheid oor die beweerde aanstelling van sekere subkontrakteurs in 'n tenderprojek wat glo R49 miljoen werd is. Die projek bestaan uit die opgradering van die provinsiale pad wat vanaf die N12 na Ritchie lei. Polisiewoordvoerder, Dimakatso Mooi, sê die situasie is tans rustig, maar polisie monitor steeds die area.
OFM-nuus/Elsabe Richard
