Central SA
NRVP provinsiale week geaffekteer deur gesamentlike sitting─── 16:50 Mon, 16 Sep 2019
President Ramaphosa se oproep vir 'n gesamentlike sitting om 'n benadering tot die bestryding van geslagsgebaseerde geweld te bespreek, het gelei tot wysigings in die program van die Nasionale Raad van Provinsies se geskeduleerde week.
George Michalakis, 'n afgevaardigde van die NRVP wat die DA in die Vrystaat verteenwoordig, het aan OFM-nuus gesê dat die vyf-dae geskeduleerde program vir die Vrystaat nou net drie dae sal duur. Hy het verduidelik dit beteken dat hulle Dinsdag, Donderdag en Vrydag met die program sal voortgaan.
Michalakis het bygevoeg dat die koördinering van die program aan die kant van die presidentskap en die parlement self in totale chaos is. Hy verduidelik dat hulle reeds verlede week ‘n versoek ingedien het om dié spesifieke debat oor geslagsgebaseerde geweld af te handel.
Die gewysigde lys sluit inligtingsessies vanaf belanghebbendes soos die kontroversiële Bloemwater en Mangaung Metro in.
Michalakis het ook gesê alhoewel Woensdag en die helfte van Donderdag heeltemal van die program geskrap is, sal die NRVP steeds die Mantsopa- en Setsoso-munisipaliteite besoek, maar dit sal slegs die helfte van die geskeduleerde terrein insluit. Die besoek aan dié munisipaliteite sal te midde van toenemende kommer oor watervoorsiening deur die Mangaung Metro kom.
Die program skop môre by die Vierde Raadsaal in Bloemfontein af, waar inligtingsessies oor die stand van plaaslike regering in die provinsie verwag kan word. Die LUR’e van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) en Tesourie, sowel as die verskillende munisipale bestuurders van Setsoto-, Mantsopa- en die Mangaung Metro, sal onder diegene wees wat die program sal bywoon.
OFM-nuus/Elsabé Richard
