Central SA
Parkweg-boukontrakteur se dienste beëindig─── 10:55 Fri, 27 Sep 2019
Die onvoltooide bouwerk by die Parkweg-polisiestasie, wat na verwagting oor twee maande voltooi sou wees, het tot stilstand gekom nadat die aangewese kontrakteur nie die werk kon lewer nie en sy dienste beëindig is.
Dit het aan die lig gekom nadat 'n afgevaardigde van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP), George Michalakis, 'n vraag aan die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Patricia de Lille, gestel het oor dié konstruksie.
Michalakis het onder meer navraag gedoen oor die koste-verdeling van die projek, sowel as die aanvanklike kontrakteur. De Lille het verklaar dat uitgawes van herstelwerk en instandhouding by die Parkweg-polisiestasie as volg was: Voorlopige en algemene werk – R3 024 000; bouwerk – R24 935 796; eksterne werk – R8 661 260; elektriese installasies – R 6 375 237; meganiese installasies – R9 875 452; die Verlengde Openbare Werkeprogram (EPWP) – R20 001 120; en Gesondheid en Veiligheid – R300 000.
De Lille het bygevoeg dat Soaring Summit Development die oorspronklike kontrakteur was wat vir die tender aangestel is, maar omdat hulle nie aan die verwagtinge en die geskeduleerde tydlyn van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die departement van Openbare Werke en Infrastruktuur voldoen het nie, is die kontrak vroeg in Augustus vanjaar beëindig. De Lille het ook in haar antwoord gesê dat 'n inligtingsessie op 13 Augustus gehou is. Sy het geopenbaar dat die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika die voorgestelde tenders beoordeel het en dat die nuwe kontrakteur aanvanklik teen middel September aangestel sou word.
OFM-nuus/Elsabé Richard
