Central SA
Bedrogspul ontstel vrou van ontvoerde NW-man─── 17:10 Mon, 30 Sep 2019
'n Bedrogspul het die vrou van die ontvoerde Noordwes-man, Christo Bothma, laat vuur spuug. Bothma is sowat ‘n jaar gelede in Burkina Faso - in Wes-Afrika, ontvoer terwyl hy daar by ‘n myn gewerk het.
Hy is nog steeds vermis en sy vrou Amanda sê sy gaan aanhou glo hy leef ten spyte van verskeie verklarings dat hy oorlede is. Amanda sê die familie is egter ontsteld nadat hulle te wete gekom het van 'n bedrogspul waartydens geld ingesamel word.
Sy het inwoners van Klerksdorp gewaarsku om nie donasies te maak nie by 'n vrou wat glo bekend staan as Estelle. Amanda het aan OFM-nuus gesê dat dié vrou onder valse voorwendsels inwoners vra om geld te skenk aan die Christo Bothma-fonds. Bothma sê die bedrogspul het ook nou 'n impak op haar eie fondsinsamelingspogings.
Sy het verduidelik dat as gevolg hiervan verloor hulle kaartjieverkope vir ‘n konsert wat komende Saterdag (5 Oktober 2019) gehou sal word by die Olienpark-stadion in Potchefstroom. Kaartjies wat egter wel in Klerksdorp verkoop word, het die “Movies 4 U” stempel op.
Die fondsinsameling is vir die gesin se BackaBuddy-huisfonds inisiatief in 'n poging om die huis te red.
Sy het bygevoeg dat sy nie 'n klag teen die vrou by die polisie aanhangig kan maak nie omdat sy nie haar volle besonderhede het nie. Sy moedig egter die publiek aan om polisie in die area in kennis te stel indien enigiemand meer inligting oor haar het.
Sy sê verskeie plaaslike sangers, onder andere Hugo Storm en Mianke, het haar genader om tot dié inisiatief by te dra.
Bothma sê die familie vind dit moeilik om te aanvaar dat Christo dood is sonder dat daar enige bewyse verskaf word. Sy het verduidelik dat Gift of the Givers se Imtiaz Sooliman haar op 2 Julie 2019 van haar man se dood laat weet het.
Bothma het verduidelik dat haar man reeds in 2010 in die buiteland begin werk het en moes weer op 10 Oktober 2018 teruggekeer het na Suid-Afrika vir twee weke, maar is op 23 September 2018 ontvoer.
OFM-nuus/Elsabé Richard
