Central SA
Ontvoerde NW-man se fondsinsamelingskonsert uitgestel─── 12:30 Sat, 05 Oct 2019
Die BackaBuddy-fondsinsamelingskonsert vir die ontvoerde Christo Bothma se familie se huisfonds, wat vandag by die Olienpark-stadion in Potchefstroom moes plaasvind, is uitgestel.
Amanda Bothma het aan OFM-nuus gesê dis gekanselleer as gevolg van beweerde onvoorsiene komplikasies met die plaaslike munisipaliteit.
Sy sê die inwoners wat kaartjies gekoop het, kan dit eerder hou totdat die volgende datum bekend gemaak word of geld terug kry by die persoon by wie die kaartjies gekoop is.
Dit kom ‘n week nadat OFM-nuus berig het dat ‘n vrou genaamd Estelle onder valse voorwendsels inwoners van Klerksdorp vra om geld te skenk aan die Christo Bothma-fonds wat volgens Amanda 'n impak op haar eie fondsinsamelingspogings het.
Intussen sê Amanda die familie vind dit moeilik om te aanvaar dat Christo dood is sonder dat daar enige bewyse verskaf word.
Sy het verduidelik dat haar man reeds in 2010 in die buiteland begin werk het en moes weer op 10 Oktober 2018 teruggekeer het na Suid-Afrika vir twee weke, maar is op 23 September 2018 ontvoer in Burkina Faso in Wes Afrika.
OFM-nuus/Elsabé Richard
