Central SA
Vragmotorbestuurder bly in aanhouding ná agt se dood─── 12:28 Thu, 24 Oct 2019
Die vragmotorbestuurder wat tereg staan op die dood van agt leerders ná ‘n tragiese ongeluk verlede Saterdag in Noordwes, se bortogaansoek is gister uitgestel tot 28 Oktober in die Lehurutshe-landdroshof.
OFM-nuus het voorheen berig dat die polisie gedurende hulle ondersoek ontdek het dat die 26-jarige man nie in besit van ‘n bestuurslisensie is nie, maar slegs ‘n leerlingbestuurder is. Die voorval het plaasgevind toe minstens 30 leerders van die Ratsela Middelskool en Letlhakane Primêre Skool in Rietpan naby Zeerust betrokke was in 'n ongeluk waarin ses leerders op die toneel dood verklaar is. Nog twee leerders is later dood weens die omvang van hulle beserings.
Polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone het aan OFM-nuus gesê die verdagte staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en/of nalatige bestuur, asook bestuur sonder 'n rybewys.
Hy bly tans in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.
OFM-nuus/Elsabé Richard
