Central SA
NK-inwoners steek munisipale gebou aan die brand─── 17:23 Mon, 28 Oct 2019
'n Saak van brandstigting word tans deur die polisie in die Noord-Kaap ondersoek, nadat inwoners van Ritchie Maandag ‘n munisipale gebou aan die brand gesteek het.
Die inwoners het na bewering betoog oor dienslewering in die area.
Dit is volgens polisiewoordvoerder, Sergio Kock, wat sê die provinsiale kommissaris het inwoners gemaan om nie geweld te gebruik of eiendom te beskadig nie, maar om eerder hul kommer op 'n vriendelike manier uit te lig.
Volgens Kock is niemand nog in hegtenis geneem nie, en hy sê lede van openbare orde-polisiëring monitor die situasie.
OFM-nuus het voorheen berig dat dié gemeenskap in September verskeie betogings gehad het waar hulle hulle ontevredenheid uitgespreek het oor die plaaslike raadslede en die aanstelling van sekere sub-kontrakteurs by ‘n omstrede padpojek in die area.
Inwoners het ook gedurende die betogings geëis dat die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, die dorp besoek om vrae te beantwoord, en sodat hulle verskeie griewe kan lig - soos die omstrede tender vir die opgradering van die provinsiale pad wat na die dorp lei.
Die betogings het ook daartoe gelei dat polisie na die gebied ontplooi is, waarna ‘n sestigjarige vrou in haar erf deur een van die rubberkoeëls getref is.
OFM-nuus/Elsabé Richard
