Central SA
Koffiefontein-leerder se borgtogaansoek uitgestel─── 10:49 Tue, 29 Oct 2019
Die hofsaak van die leerder van Reikaeletse Sekondêre Skool in Koffiefontein in die Vrystaat wat na bewering ‘n mede-leerling met ‘n skroewedraaier gesteek het, is gister in die Koffiefontein-landdroshof uitgestel.
Dit is volgens die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Phaladi Shuping, wat aan OFM-nuus gesê het dat die 16-jarige leerder weer op 6 November in die hof sal verskryn vir sy borgtogaansoek.
OFM-nuus het voorheen berig dat die beskuldigde na bewering die slagoffer, Lungelo Khetshane, in 'n oomblik van woede met die voorwerp gesteek het. Khetshane is in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorlede en is die afgelope Saterdag in Koffiefontein begrawe.
Die verdagte is intussen by die jeugafdeling van die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein aangehou.
Die woordvoerder vir die Vrystaatse Onderwysdepartement, Howard Ndaba, het voorheen aan OFM-nuus gesê dat die departement woedend is oor die vlaag van geweld by verskeie skole in die provinsie nadat nog ‘n leerling sowat twee weke gelede met ‘n mes by ‘n laerskool in Brandfort aangeval is. Die graad 6-leerder is na ‘n hospitaal in Bloemfontein gehaas waar hy in ‘n stabiele toestand was.
OFM-nuus/Elsabé Richard
