Central SA
MRK bekommerd oor vervoer na Noord-Kaapse skole─── 12:17 Tue, 09 Jun 2020
Die Menseregtekommissie se advokaat, Chantelle Williams, sê die kommissie neem met kommer kennis van 45 matriekleerders wat glo - weens die skynbare onvermoë van die onderwysdepartement om vervoerverskaffers te betaal - nie skool kon bywoon nie.
Williams sê die kommissie gaan verseker dat die departement voldoen aan die voorgestelde maatreëls, en vra dat skoliere ook hulle kant moet bring.
Williams voeg by die kommissie gaan voorts alle skole besoek om te bepaal of hulle voldoen aan die nodige vereistes.
Intussen het die onderwyswoordvoerder in die provinsie, Lehuma Ntuane, aan OFM-nuus gesê die probleem rakende vervoer vir leerders het ontstaan omdat diensverskaffers betaling geëis het vir dienste wat nie gelewer is nie weens die sluiting van skole.
Hy sê daar is in gesprek met verskaffers getree en hulle is aanbeveel om die Covid-19 hulpfonds te nader, aangesien die departement nie kan betaal vir dienste wat weens die nasionale inperking nie gelewer is nie.
Ntuane sê verder dat vervoer gister op 26 roetes verskaf is, terwyl 20 van die roetes geen Graad 7- of 12-leerders het nie.
Die departement sê ook dat hulle nou ‘n hersieningsplan van stapel gestuur het om te verseker dat leerlinge wel na en van skole vervoer sal word.
OFM-nuus/Roderick Titus
