Central SA
Keimoes-gesinne bedreig deur stygende watermassa─── 17:07 Wed, 10 Feb 2021
Minstens 21 gesinne is van die res van die dorp Keimoes in die Kai Garib munisipale regsgebied in die Noord-Kaap afgesny weens die stygende watermassa.
Die plaaslike ramp-bestuurder, Herold Olyn, het aan OFM-nuus bevestig dat die watervloei van die Oranjerivier drasties gestyg het, en brue na Meyers-eiland, Lanklaas-eiland, Rooikop- en Gras-eiland sowel as Vyebos-eiland heeltemal oorstroom het.
Inwoners is reeds voorsien van water-suiweringsmiddels in 'n poging om enige siektes te voorkom.
Olyn het in 'n verklaring aangevoer dat die moontlikheid bestaan dat massa-ontruimings gedoen sal moet word, terwyl alle relevante partye - wat nooddienste, verkeer, die polisie en die munisipaliteit se rampbestuurspanne insluit - op gereedheid geplaas is indien dit nodig sou wees.
OFM-nuus/Roderick Titus
