Central SA
Saftu in NK sluit aan by nasionale staking─── 08:38 Wed, 24 Feb 2021
Noord-Kaapse lede van die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie, oftewel Saftu, het aangedui dat hulle by die nasionale staking, wat vir vandag beplan word, gaan aansluit.
Die vakbond sê dit is 'n beskermde staking en geen werkgewer gaan toegelaat word om werkers te viktimiseer nie.
Saftu sê die Covid-19 pandemie het nagenoeg 2,2 miljoen mense werkloos gelaat en beskuldig die sakegemeenskap daarvan dat hulle sake vererger het deur lone te sny.
Die vakbond voeg by dat werksomstandighede ook vererger het deurdat daar nagelaat is om persoonlike beskermende toerusting aan werkers te voorsien. Saftu eis 'n basiese loon van R12 500 vir alle werkers, asook die sny van bonusse en ander voordele vir sogenaamde base.
Modisaotsile Siro, die interim provinsiale voorsitter van die vakbond, sê alle lede van die vakbond gaan aan die wegbly-aksie deelneem.
Hy sê regeringsinstellings soos die Robert Magaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley se onvermoë om 'n diens te lewer weens hul personeeltekort, sowel as die Dokter Harry Surtie-hospitaal in Upington, waar dokters onlangs in 'n protesoptrede hulle ontevredenheid uitgespreek het, is genoeg bewys dat die werkers se regte nie deur die regering in ag geneem word nie.
Die misbruik van staatsfondse is ook een van die probleme wat tot die onmenslike werksomstandighede bydra, sê Siro.
OFM-nuus/Roderick Titus
