Central SA
Noord-Kaapse munisipaliteit doen dienslewering-peiling─── 12:24 Mon, 01 Mar 2021
Woordvoerder vir die Dawid Kruiper Munisipaliteit in die Noord-Kaap, Patrick Williams, sê die munisipaliteit is tans besig met 'n meningspeiling om te bepaal wat die gemeenskap se gevoel oor die entiteit se dienslewering is.
Dié munisipaliteit is tans besig met verskillende projekte, soos die optel van vullis, asook die aanbring van padtekens en herstel van slaggate.
Williams sê die munisipaliteit gaan ook binnekort vyftig persent van plaaslike inwoners en sakelui, asook nie-regeringsorganisasies, se skuld afskryf mits hulle aan sekere vereistes voldoen.
Die burgemeester van die munisipaliteit, Michael Segede, het intussen ook gevra dat inwoners aan die meningspeiling moet deelneem sodat die munisipaliteit kan weet wat die algemene gevoel oor dienslewering is, en waar indien moontlik dit verbeter moet word.
Intussen het Williams verder gevra dat die munisipaliteit se eiendom, insluitend sportstadions en biblioteke asook begraafplase, nie gevandaliseer moet word nie; omdat dit onnodige druk op algemene dienslewering plaas.
OFM-nuus/Roderick Titus
