Central SA
Hofinterdik teen NK LUR nie toegestaan─── 17:48 Mon, 05 Jul 2021
Die LUR vir Gesondheid in die Noord-Kaap, Maruping Lekwene, was suksesvol in sy dringende interdik in die Noord-Kaapse Hooggeregshof om tugstappe met betrekking tot wanadministrasie teen hom te staak.
Lekwene het die interdik gebring om die premier, Zamani Saul, asook LUR vir Finansies, Abraham Vosloo, te keer om tugstappe teen hom in te stel nadat 'n verslag van die Openbare Beskermer in Junie vanjaar bekendgemaak is. Die verslag is op 3 Junie vanjaar bekendgemaak ná 'n ondersoek na onbehoorlike optrede en wanadministrasie met betrekking tot die beweerde fooi wat Lekwene sou ontvang ná die aanstelling van die uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Dobbelraad. Lekwene het Vincent Mothibi in September 2019 aangestel as uitvoerende hoof van die Dobbelraad tydens Lekwene se termyn as LUR vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme.
Die verslag van die Openbare Beskermer dui daarop dat Mothibi nie aan die vereistes vir die pos voldoen het nie en dat die korrekte prosedure nie tydens die aanstelling gevolg is nie. Adv. Busisiwe Mkhwebane se verslag sê die LUR het die etiese kode oortree en dat dit teenstrydig is met die wet. Lekwene sê die bevinding is skadelik vir sy politieke loopbaan en sy reputasie en dat die finansiële skade om die verslag te laat hersien, onherstelbare skade aan hom gaan aanrig.
Die verslag van die Openbare Beskermer het verder bevind dat die premier binne 30 dae teen Lekwene moet optree en dat 'n verslag in dié verband binne 60 dae aan die Provinsiale Wetgewer voorgelê moet word oor wat die optrede behels het. Die huidige LUR, Abraham Vosloo, is ook beveel om ondersoek na die bewerings in te stel en binne 60 dae die optrede aan die wetgewer te rapporteer. Lekwene sê egter die OB het nie die mag om 'n opdrag aan die premier te gee nie.
Die bevel is in Lekwene se guns beslis en is nie teengestaan nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
