Central SA
NK-dienslewering kry hupstoot met nuwe sleepwaens─── 10:21 Thu, 29 Jul 2021
Die woordvoerder van die Kai Garib-munisipaliteit, Mary-Ann Pienaar, sê die aankoop van die dorp se drie veeldoelige sleepwaens, wat ingespan gaan word om vure in die munisipale regsgebied te blus, is om hulle dienslewering weer op koers te kry.
Pienaar sê die sleepwaens is toegerus om sanitasiewerk, sowel as brande, op verskeie terreine te beheer en kan water vanuit damme en selfs die kanaal gebruik om te funksioneer. Dit is ook mobiel en kan van die sleepwa verwyder word in gebiede wat moeilik bereikbaar is. Die Kai Garib-munisipaliteit sê dienslewering bly hulle prioriteit en hulle kan slegs hierin slaag as inwoners saamwerk.
Pienaar sê die droogte wat die afgelope tyd in die Noord-Kaap ervaar word, maak dit meer vatbaar vir veldbrande en sy vra dat inwoners versigtig sal wees met die maak van vure.
Sy sê die storting van vullis skep ook 'n gesondheidsrisiko vir inwoners, daarom moet mense wegdoen daarmee en diegene wat hulle daaraan skuldig maak, moet gerapporteer word. Pienaar het laastens die Kai Garib-publiek bedank vir hulle samewerking met die munisipaliteit en gevra dat munisipale infrastruktuur beskerm moet word.
OFM-nuus/Roderick Titus
