Central SA
Nuutste oor LHP se mark-heropening─── 13:00 Thu, 29 Jul 2021
Daar is groot opgewondenheid in die lug nadat die gewilde Langenhoven-markbestuur aangekondig het dat hulle hekke weer vanaf hierdie Saterdag - 31 Julie - vir die publiek oop sal wees.
Bloemfonteiners word uitgenooi om die Langenhoven-mark saam met uitstallers te gaan geniet. Daar is tuisgemaakte lekkernye vir almal se smaak.
Volgens die bedryfshoof van die Langenhoven-mark, Leon Oosthuizen, is daar ‘n postiewe gesindheid vanaf die SAPS dat die mark weer Saterdae mag oop wees, met baie streng regulasies. Hulle het egter steeds niks op skrif gekry nie .
Oosthuizen het aan Bloemfontein Courant gesê daar sal hier en daar nuwe maatreëls wees om almal se veiligheid te verseker maar hulle glo dat dit niemand sal verontrief nie.
Hy verduidelik verder dat slegs Hek 12 sal oop wees vir die publiek, sodat dit goed gekontroleer kan word. “Hulle het wel genoem dat hulle sal kom inloer om te kyk of ons by die reëls hou. Ons sal dan weekliks weer probeer opbou en terugkeer na normaal. Ons gaan egter nog steeds voort met die stryd om dit op skrif te kry.”
Vrystaatse polisiewoordvoerder, Sam Makhele, het verduidelik dat die land nou regulasies vir vlak drie van die nasionale inperking weens die pandemie moet volg en van die bedrywighede mag weer voortgaan. “Heraanpassings word deur regulasies bepaal.”
Een van die uitstallers, Elize van Zyl, het ook aan Courant vertel dat hulle mag oopmaak en dat die mark vir hulle boodskappe gestuur het. Hulle verwag binnekort meer inligting. “Ons hoop van harte om oop te maak. Ons trek bitter swaar sonder die inkomste wat ons verloor het. Ons het dit regtig baie nodig.”
NUUTSTE VERWIKKELING: Hoewel die bestuur van die Langenhoven-mark tot op die laaste oomblik probeer het om die mark te laat plaasvind, was die geluk egter nie aan hul kant nie.
Dit kom nadat die polisie 'n vorige Saterdag die mark gesluit het weens Covid-19-inperkingsmaatreëls. Die bestuur het nou die dienste van ‘n prokureur bekom om die mark as ‘n uitstal-area vir informele handelaars te verklaar.
“Ongelukkig duur hierdie proses lank, en is ons spyt om die publiek mee te deel dat die mark nie hierdie Saterdag oop sal wees nie,” sê die bestuur in ‘n verklaring.
Hulle sê aan Bloemfontein Courant die rede wat die polisie aanvoer vir die sluiting, is dat vlooimarkte nie onder Vlak 4 toegelaat word nie. “Ons is steeds oortuig dat ons nie ‘n vlooimark bedryf nie, maar ‘n uitstal-area vir informele handelaars. Die polisie wil egter nie hierdie onderskeid erken nie.
Die bestuur hoop om teen volgende week goeie nuus in verband met die mark vir die publiek te bring.
Bloemfontein Courant/Sazly Hartzenberg en Justine Fortuin
